’n 27-Jarige man van Riebeek-Wes, wat sedert die ouderdom van 16 keer op keer deur die plaaslike polisie aangekeer en in hegtenis geneem is, het die afgelope Woensdag (12 Februarie) in die plaaslike landdroshof op aanklagte van huis- en sakeroof verskyn.

Die verdagte word beskryf as ’n gewoontemisdadiger wat 11 jaar gelede die eerste keer vir die besit van dagga in hegtenis geneem is. Hy was sedertdien vir talle dade, waaronder winkeldiefstal, sakeroof, aanranding gewoon en aanranding met die doel om ernstig te beseer, die besit van gevaarlike wapens, huisbraak, diefstal en die besit van dwelms aangekeer. Volgens kapt. Tania Helfricht, ’n polisiewoordvoerder van die Weskus-distrik, is alle sake intussen teen hom teruggetrek. Hy is egter Sondag 9 Februarie wéér deur die plaaslike polisie aangekeer nadat hy na bewering ’n mede-verdagte van 28 aangerand en van R80 beroof het. Die eerste voorval het omstreeks 13:00 die middag plaasgevind, gevolg deur ’n rooftog by ’n plaaslike onderneming om 18:50 later die aand.

Hy en twee verdagtes het ’n 27-jarige man in sy winkel in Conterbergstraat oorval en beroof. “Die klaer is met ’n mes gedreig en op die grond neergegooi, waarop die drietal met R5 000, sigarette en sap gevlug het.”

Hy en een van die medeverdagtes het omstreeks 20:00 na bewering wéér ’n winkel in Madeliefiestraat van R3 000, sjokolade en sigarette beroof.

Slegs die gewoontemisdadiger is kort daarna deur die polisie vasgetrek.

Die ondersoek in al drie sake duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.