Genade, liefde, geduld vir 69 jaar

Op 11 April om 15:00 was dit presies 69 jaar vandat tannie Stienie en oom Hannes Stander in Piketberg se NG kerk getroud is. Ná 36 werkjare in Oranjemund woon hulle die laaste 33 jaar as afgetredenes in Malmesbury.


Op 11 April om 15:00 was dit presies 69 jaar vandat tannie Stienie en oom Hannes Stander in Piketberg se NG kerk getroud is. Ná 36 werkjare in Oranjemund woon hulle die laaste 33 jaar as afgetredenes in Malmesbury.

Die jong Hannes Stander het pas sy een-jaar-poskantooropleiding in Oudtshoorn voltooi (waar hy onder meer morsekode moes bemeester), toe hy besef as enkellopende is voortdurende verskuiwings sy voorland: Upington, Klawer, Citrusdal, De Hoek, Piketberg.

In Piketberg het hy egter die prokureur se donkerkop sekretaresse, Stienie Ehlers, ontmoet, maar is vroeg in 1952 na Oranjemund verplaas – die Namibiese myndorp waar ’n mens net met jou klere mag aankom. Niemand mag meubels daar in- of uitry nie – alles om diamantsmokkelary te beperk.

“Die dorp het geen telefoonlyne gehad nie. Die enigste kommunikasie was briewe na jou familie en vriende, plus morsekode na twee buite-poskantore.”

Ná maande van alleen woon en werk, is die paartjie op 11 April 1953 in Piketberg getroud. Van kosmaak het die jong bruid min geweet. “Ek wens ek het daardie jare ’n resepteboek gehad – ek het eers járe later ’n Kook en Geniet gekry.”

Deesdae herinner die tweetjies mekaar aan “kosflops” wat hulle moes deursien, die kokery op ’n paraffienstofie wat die kombuisgordyne swart van die roet gemaak het, die maandelikse salaris van £27.10s (R55), die primitiewe manier van kos koop: “Dan vat ek my bekertjie vir melk by die melkery, gebruik koepons om brood te koop, en ons was baie bly as nuwe intrekkers kon hare knip of help om naaldwerk te doen.

“Ons moes huishou sonder ’n poleerder of wasmasjien. As ’n mens siek was, moes jy maar uit die bed opstaan en dokter toe stap, want alle private motors was buite Oranjemund in ’n plaasskuur geberg. Ons moes betyds permitte reël as familie kom kuier, anders word hulle toegang tot die dorp geweier.

“Voor vakansies moes ons eers ons klere uittrek en net ’n jassie aantrek vir X-straalfoto’s – als om smokkelary te keer. Nie eens ’n krismiskoek kon uitgaan sonder X-strale nie.”

En wanneer die lang brug oor die Oranjerivier breek, moes die inwoners met ’n bootjie vaar tot waar die brug weer heel is, met ’n leer teen die brug opklim vanwaar ’n maatskappy-ryding jou tot by jou motor gebring het.

Tussen die grootmaak van twee seuns en ’n dogter het Stienie geleer kook, koekbak, kinderpartytjies hou en deel geraak van die NG-gemeente daar. “Geld uit ons koek- en tertverkope het ’n kerk help bou – die kerk met ’n perd waar die tradisionele haan gewoonlik staan.”

By die poskantoor het oom Hannes se werk meer as morsekode en briewe behels: “Ek moes ook diamante in staalkabinette verseël en na Posbus 413, Kimberley, pos – ek sal daai adres nooit vergeet nie.

“Maar eendag het ’n hele deurmekaarspul ontstaan: ’n Werker het ’n swaar sak vol katalogusse in plaas van diamante in ’n staalhouer gepak. Omdat mense van die omgewing destyds klere en skoene uit katalogusse bestel het, was katalogusse gewild. Toe bel die manne wat die diamante moes ontvang, baie benoud: Wáár’s die diamante? “Ons moes gaan soek! En sowaar – die sak met diamante hang steeds daar, per ongeluk omgeruil met die katalogusse.”

Fluisteringe oor diamantsmokkelary het wel hul ore gereeld bereik, vertel die egpaar.

Oom Hannes moes op 60 uittree. Gelukkig het hul Malmesbury-huis reeds vir hulle gewag, gebou deur Jackson-bouers. Kort hierna het hul dogter, Lizette, en haar gesin ook Malmesbury toe getrek. Lizette het in Aandskemering-tehuis vir bejaardes verpleeg, terwyl haar man, Mike Steyn, by die destydse Hippo Quarrie (nou Afrisam) gewerk het. Uit pure liefde het hierdie grootouers oor die volgende jare vele ure bestee en baie kilometers afgelê om hul drie kleinseuns te help grootmaak. Dit het sewe tot agt skoolritte per dag ingesluit, want wisselende ouderdomme beteken verskillende skool- en sporttye. Later het dié grootouers met baie toewyding toegesien dat drie kleinseuns betyds hul enterpreneursprodukte by die skool kry – warm worsbroodjies, ham- en kaasbroodjies, koue koeldranke en drie soorte fudge: “Danksy enterpreneurs kon die kinders baie van geldsake leer; elkeen het ’n eie bankrekening gehad.”

Deesdae is die kleinseuns afstudeer en getroud en ’n besondere mooi verhouding bestaan tussen die grootouers, vier kleinseuns en twee agterkleindogters.

Hoe het hulle dit reggekry om sulke lang jare as getroudes saam te bly? “Dis net genade,” glo tannie Stienie (89). “En geduld,” vul oom Hannes (93) aan. Waarop tannie Stienie lekker lag: “Ja, geduld as die rys etenstyd nog hard was, dan bly jy maar stil.

“Ons moes vasbyt en regkom; daar was nie plek vir wegloop nie! Rondom ons was die Oranjerivier, die see, veiligheidshekke en Alexanderbaai.”

Deesdae voltooi die egpaar mekaar se sinne, help mekaar belangrike bakens onthou en leef so gesinchroniseerd soos ledemate saam. Saam met die broosheid wat die ouderdom bring, vorm hul kinders en kleinkinders ’n laer rondom Oupa en Ouma om hulle veilig en geliefd te laat voel.. Oranjemund was ’n geslote dorp met streng veiligheidsmaatreëls weens diamantdelwery. Hierdie maatreëls het tot Oktober 2017 gegeld.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.