`n Genadendal-speler word aan die trui beetgekry deur Ashton-verdedigers. Foto: Norman Evertson


ASHTON – Die Overbergse rugbyspan Genadendal RVK, is verlede Saterdag (9 April), tydens sy vriendskaplike rugbywedstryd teen Ashton United RVK heeltemal deur die tuisspan oordonder.

Dié kragmeting het op die Kogmanskloof-sportterrein in Ashton plaasgevind.

Dit was ’n opwindende wedstryd waartydens die toeskouers op lekker hardlooprugby getrakteer is.

Die tuisspan het grotendeels die gang van die wedstryd bepaal en aan die einde van die dag verspot maklik gewen.

Ashton het in die eerste 40 minute van die wedstryd drie keer agter die besoekers se doellyn gaan kuier. Slegs een van dié drieë is egter verdoel.

Hierteenoor kon Genadendal geen punte in die eerste helfte op die telbord kry nie, ten spyte daarvan dat hulle werklik hard probeer het.

Die tuisspan se verdediging was in daardie stadium net ondeurdringbaar.

Toe rustyd aanbreek, was die tuisspan reeds 17-0 voor.

In die tweede helfte het die tuisspan sy greep op die wedstryd verder verstewig en hy het nog vier drieë ingeryg, waarvan drie verdoel is.

Genadendal, wat egter nie wou bes gee nie en deurentyd moedig teen die aanslag van die tuisspan bly veg het, is uiteindelik vir sy vasberadenheid met twee drieë beloon.

Hy kon slegs een van die twee drieë verdoel, wat die eindtelling op 43-12 te staan gebring het.

In dié wegholoorwinning het Ashton die Overbergers se doellyn altesaam sewe keer oorgesteek.

You need to be Logged In to leave a comment.