Gedigtefees om oor huis toe te skryf

Die McGregor Gedigtefees beloof om vanjaar ’n geleentheid te wees wat geen liefhebber van dié kunsvorm kan misloop nie – en dit is om die draai! Verskeie groot name in Suid-Afrikaanse digkunskringe is op die program, maar ook ’n heerlike verskeidenheid intieme sessies met stimulerende temas, vertonings en slypsessies vir aspirantdigters wat hul vaardighede met…


Die McGregor Gedigtefees beloof om vanjaar ’n geleentheid te wees wat geen liefhebber van dié kunsvorm kan misloop nie – en dit is om die draai!

Verskeie groot name in Suid-Afrikaanse digkunskringe is op die program, maar ook ’n heerlike verskeidenheid intieme sessies met stimulerende temas, vertonings en slypsessies vir aspirantdigters wat hul vaardighede met die woord wil verfyn.

Antjie Krog, Adam Small en Diana Ferrus is maar enkele van die name wat die oog vang. Krog sal Vrydagoggend aan die beurt wees met Monsters en Fairies, en Saterdag en Sondag met Mede-wete/Synapse, Small Saterdagmiddag met Klawerjas en daarna, en Ferrus Saterdagoggend met Vir ’n Soldaat van die Cape Corps – 70 jaar na die Tweede Wêreldoorlog.

Die program is deurspek met ander digters en temas wat ’n besoek aan die fees uiters aanloklik maak: die bekende sanger-digter Gert Vlok Nel, die liedskrywer, kunstenaar en rubriekskrywer Koos van der Merwe, Douglas Reid Skinner, Khadija Tracey Heeger, Lara Kirsten, John Maytham, Ian McCallum, Petra Müller, Patricia Schonstein, Philip de Vos en Louise Viljoen is ’n handvol van die digters wat ’n beurt sal kry.

Temas soos Telling truth slant: poetry as creative non-fiction, The exploration of Cowboy poetry, Serious, Sublime and Silly, Life as Poetic Pilgrimage en Poetry Stand-Up and Fall About prikkel nie net die nuuskierigheid nie, maar beloof ’n interessante verskeidenheid. Daar is ook oop sessies en slypsessies vir klein groepe óf individue – geleenthede wat maar min aan opkomende digters gebied word.

Voeg daarby ’n paar konserte, filmvertonings en digkuns-geïnspireerde uitstappies en gesellighede, en feesgangers het alles wat hulle nodig het om ’n verkwiklike naweekprogram saam te stel wat hul smaak sal pas.

Daar is ook ’n interessante randprogram by Die Akker, waar plaaslike gemeenskaps- en jeuggroepe hul talent – van digkuns tot dans – ten toon sal stel en waar feesgangers die naweek toegang het tot ’n groot verskeidenheid kort digsessies, digters kan ontmoet en boeke en feesaandenkings kan koop.

Die volledige program is by mcgregorpoetryfestival.blogspot.com, en kaartjies by Computicket. Navrae: info@mcgregorpoetryfestival.co.za of 023 625 1908/084 675 1164

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.