Wat het die name Antjie Krog, Floris Brown, Diana Ferrus en prof. Adam Small gemeen?
Benewens die feit dat dié name geen bekendstelling in literêre kringe nodig het nie, tel hulle ook onder die groot verskeidenheid bekende digters wat binnekort by die McGregor Gedigtefees te sien sal wees.
Dié gewilde fees lok jaarliks groot getalle besoekers na McGregor en hierdie jaar se volgepakte feesprogram beloof om, soos in die verlede, ’n reuse-verskeidenheid aktiwiteite vir een en elk te bied.
Die fees, wat op 27 Augustus afskop, strek oor vier dae en oudergewoonte sal venues regoor McGregor ingespan word vir van voorlesings tot Oop Mikrofoonsessies. Dié unieke benadering bied feesgangers die geleentheid om die hele dorp kuier-kuier te verken.
Vanjaar se feestema is “Groeiseisoen van Poësie” en benewens voorlesings en Oop Mikrofoonsessies kan feesgangers ook uitsien na Oopmond Bekgevegte waar hulle hul eie verse kan maak, straatmusikante en -digters, film- en dansvertonings, musiek en kunsuitstallings.
Gedigtekompetisie
As deel van die fees word daar, in samewerking met die Breederivier Gazette en sy susterskoerant, die Standard, ook ’n kompetisie vir ontluikende digters van 13-17 jaar oud aangebied. Onder die pryse op die spel is ’n splinternuwe I-Pad, en die feestrofee tesame met die geleentheid om jou gedig in die McGregor Festival Anthology gepubliseer te sien. Jou gedig kan selfs by die fees voorgelees word! Twaalf finaliste sal ook gekies word om deel te wees van ’n mentorskap-program waar hulle vir 12 maande die kans sal kry om hul talent as digters te ontwikkel.
Inskrywings vir dié kompetisie is beperk tot digters wie se werk nog nie voorheen gepubliseer is nie.
Gedigte moet ’n titel hê en tussen 12 en 40 reëls lank wees. Gedigte kan in Engels, Afrikaans of isiXhosa wees.
Inskrywings moet vergesel word deur die digter se naam, geboortedatum en kontaknommer. ’n Maksimum van twee gedigte per deelnemer word toegelaat.
Die kompetisie is oop vir enige ontluikende digter wat binne die Langeberg munisipale area woon.
Inskrywings moet verkieslik getik wees en kan gestuur word na elana.vanderwatt@media24.com of kan per hand by die Breederivier Gazette se kantoor in Robertson of die Standard se kantoor in Worcester (Hoogstraat 116) ingedien word.
Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 16 Augustus om 16:00.
Ouer digters kan inskryf vir die gedigtekompetisie se Ope kategorie vir skrywers van 18 en ouer. R5 000 kontant is op die spel vir die wenner van dié kategorie. Dieselfde kompetisiereëls, insluitend dat deelnemers van Suid-Afrika moet wees, geld as vir die kompetisie vir ontluikende digters.
Inskrywings vir dié kategorie moet aan info@mcgregorpoetryfestival.co.za gestuur word. Die sluitingsdatum is 17 Augustus.
Vir navrae, bel die feesorganiseerder, Jennifer Johnson, by 023 625 1908 of 084 675 1164 of stuur ’n e-pos na info@mcgregorpoetryfestival.co.za. Vir meer inligting oor wat alles by die fees te sien gaan wees, besoek www.mcgregorpoetryfestival.co.za. Kaartjies is by Computicket beskikbaar