Die uitvoerende burgemeester van die Swartland staan by die plaaslike personeel van Swartland Toerisme, Ann Heyns, Christel Marais, Kiara Dewrance, Adri Jacobs, Loïs Roos, Jacky Hartzenberg en die Speaker van die Swartland se munisipale raad, Rd. Michael Rangasamy.

Swartland Toerisme, in samewerking met Wesgro en die Weskus-distriksmunisipaliteit, het vanjaar hul heel eerste Swartland Tourism Showcase met groot sukses op Vrydag 27 Junie by die !Kwa ttu San-erfenissentrum buite Yzerfontein aangebied.

Hierdie unieke platform het plaaslike lede van die streek se toerismebedryf en die Swartland se voorste en mees dinamiese diensteverskaffers binne die toerisme- en gasvryheidsbedryf die geleentheid gegee om hul produkte en dienste aan die mees toonaangewende toeroperateurs bekend te stel.

Volgens Ann Heyns, die bestuurder van Swartland Toerisme, poog die uitstallingsgeleentheid om samewerking te bevorder, nuwe handelsverhoudings te skep, daarop te bou en die streek se potensiaal as ‘n bestemming van kulturele diepte, natuurskoon en onvergeetlike ervarings aan die lig te bring.

OORVLOED UITGESTAL

Uitstallers van Yzerfontein, Darling, Malmesbury, Moorreesburg en die Riebeekvallei het gedurende die dag hul pakkette, dienste, produkte en ‘n omvattende ervaring met ‘n besoek aan hulle, aan ‘n uitgesoekte gehoor professionele individue in die bedryf bekendgestel.

“Dit is meer as ‘n netwerkgeleentheid. Dit is ‘n mark vir betekenisvolle vennootskappe,” voeg Heyns by. “Ons sê vir die toerismebedryf: ‘Hier is die beste van die Swartland. Wat kan ons saam bou?’”

Sy hoop dat die geleentheid in die toekoms sal groei.

Altesaam 20 plaaslike toerismeondernemings, wat hul produkte en dienste ten toon kom stel het, het ook een-tot-een-gesprekke van sowat tien minute elk met die 40 toeroperateurs geniet. Middagete het ‘n proegeleentheid van die beste produkte uit die Swartland aangebied en die uitstallers en toeroperateurs het ‘n toer van !Kwa ttu self meegemaak.

HUPSTOOT VIR DIE STREEK

Volgens die uitvoerende burgemeester van die Swartland, Harold Cleophas, beteken die inisiatief baie vir die streek. “Dit beteken baie – veral ten opsigte van al ons entrepreneurs in ons streek, sakeondernermings, die wynbedryf en die toerismebedryf in sy geheel.”

Volgens hom maak ‘n geleentheid so dié deure oop vir die streek. “Ek is baie bly dat so baie uitstallers aan vandag se geleentheid deelgeneem het om hul produkte te kom bemark. Ons sien uit na die toekomstige infestering in daardie projekte wat vandag hier ten toon gestel is,” voeg hy by.

“Dit is ‘n briljante idee vir ons om raakgesien te word, ook omdat daar soveel plekke is waarvan mense nie weet nie. Ek voel meer geleenthede soos hierdie moet aangebied word vir ons om uit te kom en die nodige blootstelling te kry,” sê Cornelia Branden, die bemarkingsverteenwoordiger van Meerhof.

Robert Brendel, die eienaar van die Royal-hotel, het op sy beurt gesê hy sien uit na wat die uitkoms van die geleentheid gaan wees. Volgens hom was van die toeroperateurs van hul bestaan bewus, terwyl ander nog nooit van hulle gehoor het nie.

Direkteure van Swartland Toerisme Nicole Neethling (heel links) en Andro Engelbrecht (tweede van regs) het die geleentheid bygewoon. By hulle staan die Speaker Michael Rangasamy en die burgemeester Harold Cleophas saam met Ann Heyns, bestuurder van Swartland Toerisme (heel regs).
Swartland Toerisme het die unieke geleentheid in samewerking met Wesgro van stapel gestuur. Zizopho Kiva, Luyanda Mbele, Lizel Trimm, Etinosa Asemeta, Zintle Mtsi en Phuthuma Thole van Wesgro het die geleentheid bygewoon.
Jacqulene Melenephy, Vernorene Taylor, Heinrich Robertson en Sirmone Hendricks van die Weskus-
Distriksmunsipaliteit het toeroperateurs gewys watter toerisme-aantreklikhede in die Swartland en Weskus bestaan.
Ansie Nigrini van Het Vlock Casteel in Riebeek-Kasteel vertel toeroperateurs meer oor hul produkte.
Nileta Knoetzen van Growing Paper buite Malmesbury verbaas toeroperateurs behoorlik met hul unieke produk.
Francois du Toit en Robert Brendel, die eienaar van die Royal-hotel in Riebeek-Kasteel, was baie beïndruk met die Swartland Tourism Showcase.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article