Familiekuiers veral nou spesiaal

Dit het alles begin toe die pot kos sommerso op die tafel gesit is.


Dit het alles begin toe die pot kos sommerso op die tafel gesit is.

Paella met ’n twist, hoor ons. Die spannetjie verantwoordelik vir vanaand se ete het saam met kabeljou, prawn en kalamari ook stukkies hoender bygevoeg – met slaptjips en ertjies as versiering.

My eie witwynglas is reeds voor ete onseremonieel opgevul met ’n ander soort witwyn, sien ek.

Moenie jou vervies nie; dis ’n baie spesiale viering hierdie, vermaan my Binneste Wysheid.

Sorg net dat g’n niemand ys in jou wyn smyt nie, mor my Oer-ekke.

Die jong buurman wat gereeld met aandetes hier inval, het waaragtig weer kos geruik; hy is ook hier en het so ewe sy broer saamgebring – ’n mechanic met dun toutjievlegsels aan weerskante van sy nek en ’n bak roomys onder Toutjiesman se blad. “Om dankie te sê, Tannie,” verras hy my met sy sagte stem. Asof hulle vooraf genooi en dit sy beloofde bydrae is.

Die groenslaai verklap dadelik dis ’n produk van yskas-skoonmaak, want môre spat ons almal in vier windrigtings en niemand was lus vir ’n ekstra winkelrit nie.

Eerstens word die inhoud van Die Pot bespreek, want paella is selde op ons spyskaart. Ook diegene wat hondsiek geraak het van (te veel) seekos; die man wat so siek was langs sy kamptent en eers bevrees was hy sou sterf, en later gewens het hy doen.

Hierna draai die gesprek vanself na ongure mage en beskrywings van windmakerigheid in kleur en geur – alles in redelik stylvolle taal, só wou ons graag glo, terwyl almal lag dat die tande blink.

Intussen word tweede en selfs derde skeppies paella ingeskep, want môre ry ons weg van mekaar af en vanaand is baie spesiaal.

Iewers spring iemand op om servette te kry. En omdat ’n Wes-Kaapse diarree-vlaag ons peuters beethet, spring ouers gereeld op om ’n kind te help.

Hierna raak gunstelingvertellings van Afrikaanse komediante die treffer – Tolla se Tannie met die pienk rok, die deurnag-mallemeule-ryery; Casper de Vries wat kleintjies oor die Paashaas uitlok; Jan Spies wat altyd so lekker gelag het terwyl hy deur die Namibiese vlaktes ry en nuwe stories in sy kop uitwerk; die plattelandse nagmaal wat skeefloop weens gebrekkige oordeel en ’n gebrek aan die regte wyn sodat diakens mekaar aanmoedig met ‘come boys, come boys!’; die orrelis se ‘she’ll be coming round the moutains’ en hoe dáái kerkdiens eers teen 16:00 afsluit – met “Die Stem”.

Die jonges bring poeding in keurig versierde bakkies, maar toe die eerste baliemaag-oom kla dit smaak na meer, word roomysbakke en vlaboksies pardoems op die tafel neergeplak – vlaboksies propvol handgeskrewe boodskappies deur ’n familielid wat graag sou wou saamkuier.

Gelukkig had ons Toutjiesman se ekstra roomys, want die ontspanne atmosfeer veroorsaak dat almal aanhou bietjies inskep. Selfs die figuurbewustes lê proe-proe in, al is hul skeppies kleiner.

Al is die saamkuier so doodgewoon en onopgesmuk en sonder Emsie Etiket se riglyne, wéét ons: met petrol- en voedselpryse wat binnekort kan erger raak, is elke familiekuier deesdae nog meer spesiaal – toutjievlegsels, eiewillige aanhangsels en onstuimige kleuterpensies ten spyt.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.