Jare nadat die Elandsfontein-myn se produksie tot stilstand gekom het, maak die myn hom nou gereed om sy eerste vrag fosfaat na die Saldanha-hawe te stuur.
Die fosfaat-myn, wat aan Kropz behoort, maak tans gereed vir volle produksie nadat mynbedrywighede verlede Oktober begin het. Die myn is in 2017 in onderhoud geplaas nadat eksplorasie begin het. Aanvanklike bevindings het aangedui verstellings moes aan die myn-proses gedoen word. Dit het bykomende beleggers en ’n herontwerp van die aanleg genoodsaak.
Die Elandsfontein-myn was sedert die begin ’n omstrede projek. In 2015 het Erfenis Wes-Kaap twee hofbevele bekom om die myn te dwing om die bou van ’n verbindingspad en ander aktiwiteite te staak. Die twee het uiteindelik tot ’n vergelyk gekom en die gebied is as ’n bewaringsgebied verklaar. Dieselfde jaar het plaaslike teenstanders van die myn, die Weskus-omgewingsbeskermingsvereniging, die myn se watergebruikslisensie betwis. Die saak het by die watertribunaal van die departement van waterwese en bosbou gedraai, maar is vanjaar deur dié tribunaal van die hand gewys.
Die herontwerp-proses en staak van bedrywighede in 2017 het ook beteken talle werknemers het hul werk verloor. “Die bykomende projekbelegging was byna R600 miljoen, wat die algehele belegging van die myn op sowat R3,1 miljard te staan ??bring. Gedurende die konstruksietydperk in 2021 het die algehele aantal werknemers ’n hoogtepunt op 510 bereik,” het Kropz laas week in ’n verklaring gesê. Van dié werkers was 252 – die helfte – van die Saldanhabaai-munisipale gebied met die meeste van die werkers van die nabye Hopefield.
Intussen is ’n ingenieursontwerp-maatskappy aangestel om die aanleg se herontwerp uit te voer en teen Augustus 2020 is ’n siviele kontrakteur aangestel. Die volgende jaar is wysigings en toevoegings aan die proses uitgevoer. Die herontwerp beteken onder meer verandering aan die flotasie-proses en bykomende stoorareas vir die reageermiddels, en sal ’n nuwe watergehaltebestuurstelsel insluit.
Met die bedrywighede wat nou weer by die myn aan die gang is, is verskeie plaaslike inwoners heraangestel. Meer as 160 kom uit Hopefield, 120 uit Vredenburg en 40 kom van Saldanha. Ander werkers kom onder meer van Langebaan, Langebaanweg en St. Helenabaai, het die maatskappy gesê.
Kropz voer aan die maatskappy streef daarna om plaaslike werkers aan te stel. “Kropz het ’n verpligting om werkers wat voorheen afgelê is, uit die Saldanbaai-munisipale gebied te nader op ’n ‘reg van eerste weiering-basis’,” het Kropz laat weet.