“Ek hou van die lig hierso,” was haar standaardwoorde met die instapslag by die koffiewinkel, waar ek kortstondig kelner was. Dan het sy altyd die sonkol gekies. Ons kon ons verkneukel oor haar voorliefde vir kniekousies en outydse regaf-rompies, sodat haar kaal oumensknieë altyd uitsteek terwyl sy genoeglik haar koek en koffie geniet.
Eers later jare het haar hartseer lewensverhaal rugbaar geraak: Hoe haar neurotiese man haar lewenslank ingekamp en selfs hul vensters aan die binnekant met ’n donker filmlaag toegeplak het. Slegs een dag per maand was sy vry, wanneer hy sy ma op die buurdorp besoek en hy haar in ons dorp afgelaai het. Dan kon sy die klompie groen note in haar hand maneuver vir ’n haarsny, toiletware koop en lafenis vir haar siel – die maandelikse koffie en koek binne ’n sonkolletjie in ‘Ons Winkel’.
Toe ons van hierdie vreugdeloosheid in haar donker huis hoor, het ek ’n definitiewe lewenskeuse gemaak: ‘Kies altyd die sonkol’!
Daar was nog lesse: Ek’s geen wafferse kelner nie; ook dat hoëhakskoene geensins saam met kelnerwees werk nie, veral nie as lastige boomwortels ook nog sake bemoeilik nie.
Onwetend het my laaste dag as kelner aangebreek toe ons eens nederige koffiewinkel ’n somerstroue in die tuin aanbied. Die eienaars het weke lank hul tuin voorberei vir ’n heel eerste aandtroue. ‘Ons Winkel’ is uitgebrei tuin toe terwyl honderde liggies in die bome aangebring en ’n sjef uit ’n groot Bolandse dorp aangery is om die nodige oemf te verseker.
En wie was die 19-jarige wat ’n dik swart streep deur die aand se grootsigheid getrek het? Ekke.
Bygesê, dit was darem al poedingtyd toe my hoë hak aan ’n boomwortel vashaak en my skinkbord noodgedwonge kantel. Ek kon die meeste skade keer, behalwe vir ’n enkele handgemaakte roomysballetjie wat projektielstyl van ’n roomystoring afgeskiet het – reguit na die bruid se ma met die mooie V-ruglyn.
Ek het weke lank nagmerries gekry hieroor – die oombliklike verstrakking van haar rug en skouers toe die sjokoladeroomysie, nogals versier met destyds ongekende goue fairy dust, eers haar rug tref en daarna stadig, meedoënloos teen haar rug afgly. Dit het gevoel of dit ure lank bly huiwer in daardie lae V-hoekie op haar rug voordat die eens begeerlike roomysblopsie teen haar ritssluiter afglip en op haar stoel land, redelik naby haar mooi agterstewe.
Ek wou nooit probeer uitwerk hoe haar gesig en oë moes lyk terwyl haar nagereg onverwags en onverdiend teen haar rug afgly nie. Ek het wel later gehoor die eienaars kon twee en twee bymekaar tel toe hulle slegs my swart voorskoot in die kombuis aantref omdat ek verdwyn het – ’n wegraping, wat uitsluitlik vir my bedoel was.
Ek het dit eers láter vir my ma vertel – veral omdat ek moes verduidelik waarom ek nie my klein lening kon klaar betaal nie. Sy’t so ’n manier gehad om altyd haar lag te probeer wegsteek, maar omdat ek toe al ouer was, kon ek die liggies in haar oë lees terwyl sy sedig maan: “Skoenmaker, hou jou by jou lees!”