Geagte lesers, wees gewaarsku: hierdie rubriek het ’n skokkende einde. Maar wag eers, moenie nou al gaan loer nie; lees eers verder.
Die mishandeling van enige dier bly nou maar eenmaal, soos hulle in Engels sou sê, ’n no brainer, want ’n mens het skaars ’n halwe breinsel nodig om te besef dis verkeerd.
Maar, nou blyk dit daar is dieremishandeling én “dieremishandeling”. Wat sou jy daarvan dink as jou buurman se taankleurige labrador eendag skielik rooi is? Dalk sal jy skrik, dalk sal jy dink dis nou fraai, of dalk sal dit na jou mening dieremishandeling wees.
Wel, iewers oorsee het ’n vrou haar die argwaan van haar bure op die hals gehaal toe sy haar Pirennese berghond rooi gekleur het – darem met iets wat spesiaal vir diere gemaak is.
Sy beweer omdat die hond nou baie meer aandag trek, is dit veiliger om met hom te gaan stap, want die verkeer kan hom beter raaksien. Boonop lyk hy volgens haar minder kwaai en geniet hy die gepamperlang wanneer sy die kleursel aanwend – al 60 kg van hom.
Dis wel buitengewoon, maar is dit dieremishandeling?
Wat soos ’n paal bo water staan dat dit wel dieremishandeling is, is wanneer ’n goudvissie in ’n ronde bakkie aangehou word waar hy dag en nag om en om swem. In ’n groot vierkantige vistenk met al die toebehore is dit dalk ’n ander saak, hoewel dit kunsmatig bly.
Die feit is, diere behoort nie gevange gehou te word nie. Dit geld natuurlik voëls ook, wat mense maar alte graag in hokke aanhou. Dikwels kan hulle nie eens hul vlerke strek nie, so klein is dit. Maar terug na die visse.
Oorsee het ’n dierewinkel besluit om glad nie meer ronde visbakke te verkoop nie, want dit maak die visse mal. ’n Goudvis kan tot 30 jaar oud word, so hoeveel keer gaan hy in die rondte moet swem? Hy gaan nie vyf jaar haal nie.
Visse het ander visse rondom hulle nodig, sowel as genoeg ruimte en vars water om te oorleef. Die dierewinkel het laat blyk aangesien hy nie almal kan opvoed dat ronde visbakke wreed is nie, gaan hy eerder die verkoop daarvan staak. Dan het mense nie meer ’n keuse as om ’n vierkantige bak te koop nie.
Trouens, in Europa, byvoorbeeld Duitsland, verbied wetgewing lankal die verkoop van visbakke. Dis iets wat ons gerus in Suid-Afrika kan oorweeg.
Maar nou, iets oor daardie pes der peste, die alomteenwoordige vlieg. Hulle bring die slegste in my na vore, want ek noem hulle eintlik “vrek”. As ek hom sien, is hy vrek. Hulle is nes die Chinese se water-torture, en boonop vieslik vuil.
Ek het ondervind selfs al gaan jy tot op die hoogste bergspits, is daar – raai wat – vlieë! Hulle is oral. Stap jy op die strand, is hulle ook daar. Gaan jy winkel toe, sit hulle op die groente.
Hoera! Nou is daar miniatuur soutgewere te koop, met ’n laserfisier en al. Jy kan nie mis skiet nie. Ek erken – ek vermoor vlieë.