MONTAGU – Die veelbesproke derbywedstryd in die BRU se gemeenskapskild-afdeling tussen Young Turbos en Young Warriors was verby nog voordat ’n enkele bal geskop is.
Ja, jy lees reg. Die eindfluitjie het geblaas nog voordat die wedstryd ’n aanvang geneem het.
Nadat die twee B-spanne se wedstryd geëindig het – terloops, dié wedstryd is deur die tuisspan, Young Turbos,15-12 gewen – het die A-spanne opgedraf.
Die spelers het egter doelloos op die veld gedraal onderwyl ernstige gesprekke tussen bestuurslede van beide klubs en die skeidsregter, Joseph Julies, plaasgevind het.
Nadat nog tyd verloop het, het die skeidsregter die twee kapteins na die middel van die veld geroep. Kort daarna het hy hard op sy fluitjie geblaas en aangedui die wedstryd, wat in werklikheid nooit begin het nie, is verby.
By navraag oor dié toedrag van sake, het Andries ‘Aan’ Conradie, die voorsitter van Young Turbos, hom so uitgelaat: “Ja, kyk, daar was so ’n paar goedjies wat Warriors nie in plek gehad het nie. Die eerste ding is: ’n uitkenningsparade is gedoen. En dan, jou wedstrydverslag moet definitief ooreenstem met jou uitkenningsparade. En daar was net twee name op Warriors se wedstrydverslag. Ons het nie daarmee saamgestem nie. Dit gaan nie werk nie.
“Die tweede ding is die gekontrakteerde spelers wat hulle daar gehad het. Dawro (Koch) en twee spanmaats – ek dink dit was twee van sy maatjies wat in ’n ander provinsie, dis mos KwaZulu-Natal – rugby speel.
“Die ref het vir hulle gesê hulle moet ’n vrywaringsvorm van hul unie af kry wat hulle na die Boland-rugbyunie moes aangestuur het en natuurlik na hul klub toe ook.
“Maar daar was niks nie. Ek het toe gesê nee; ons bestuur het saamgestem – dit kan nie so nie. Ons soek daai goed. Daai goed moes in plek gewees het. Ons het besluit ons gaan nie die wedstryd speel nie, want alles was onvolledig van Warriors se kant af. Dis maar hoekom die derby nie afgekom het nie.”
Gazette het Nick Henry Wilschut, die voorsitter van Young Warriors, genader vir kommentaar oor die voorval.
Wilschut het soos volg reageer: “Die verslag was nie voltooi nie, maar die ref het gesê ons kan dit voltooi. Nadat die verslag voltooi is, het die ref gesê ons kan maar begin. Die bestuur van Turbos sê toe nee, hulle wil die vrywaringsbriewe van die twee studente hê.
“Dawro Koch het voor Covid vir Warriors in die Top 18-finaal gespeel. In 2019, toe die rugbyseisoen stop, het hy vir Warriors gespeel.
“Dawro het nie ’n kontrak by enige klub nie. Hy is by Young Warriors geregistreer.
“Hulle – Turbos se bestuur – wou nie verder speel nie. Toe besluit die ref hy blaas die eindfluitjie.
“Maar Warriors het opgedaag en soek hul vyf punte, plus hul uitgawes van die dag.
“Dankie.”