Natie Coetzer (65) is Sondagoggend na ‘n kort siekte in die Crestcare-hospitaal in Malmesbury oorlede.

MALMESBURY – Die nuus oor Natie Coetzer (65), die eienaar van die Astron Energy N7-vulstasie tussen Malmesbury en Moorreesburg, se skielike dood is met groot hartseer en skok ontvang.

Coetzer – oorspronklik van Burgersfort – het in ‘n baie kort tydperk diep in die harte van mede-Swartlanders geklim as ‘n mens kyk na boodskappe van medelye wat steeds versprei word en op sosiale media instroom. Coetzer is Sondag (18 Januarie) om 10:00 ná ‘n kort siekte in die Crestcare-hospitaal in Malmesbury oorlede.

Volgens sy familie is Coetzer, wie se kanker in remissie was, verlede week Maandag vanaf die Mediclinic Panorama na Crestcare-hospitaal oorgeplaas nadat kanker weer by hom gediagnoseer is. Hy en sy vrou, Lenette, het in Desember 2022 van Limpopo na Malmesbury verhuis. Die splinternuwe vulstasie is kort ná hul aankoms met groot opwinding geopen.

“Hy sal onthou word vir sy vriendelikheid, sy geloof, sy bereidwilligheid om mense te help, na hulle om te sien en vir hulle te bid,” skryf die gesin in ‘n gesamentlike verklaring. Hulle onthou vandag die lekker vakansies en tye saam rondom die braaivleisvuur. “Hy was baie lief om vleis te braai. Ons sal hom vir sy passie vir die lewe en sy passie vir die Here onthou.”

Volgens sy gesin word sy lewe gekenmerk aan sy liefde vir die Here en dat hy geglo het alles deur God moontlik is. Sy personeel is dit eens dat hy baie gemis sal word.

Hy laat sy vrou, vyf dogters, tien kleinkinders, sy ma, sy broer en suster agter. Besonderhede oor Coetzer se roudiens sal op ‘n latere stadium gedeel word.

Sy begrafnis vind Vrydag 23 Januarie om 10:00 vanuit die NG Noord-kerk in Malmesbury plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article