Om omring te wees deur kinders, maak Carin Plaat van Moorreesburg se hart al te bly.
Plaat het van ’n jong ouderdom af geweet sy wil eendag ’n verskil in die lewe van kinders maak.
Sy het haar tyd afgestaan as vrywilliger om met hawelose kinders te werk en gehelp om verskeie programme aan te bied.
Plaat het ook nege jaar by die kinderhuis gewerk.
“Dit was ’n geestelike ding wat ek moes doen en daar was ek ’n mamma vir 18 seuns,” vertel sy.
Ná al die jare met kinders werk en verdere studies het Plaat in 2014 besluit om haar eie kleuterskool, Carin’s Angels Learning Academy, in Moorreesburg te stig.
“My man het my van die begin af tydens hierdie reis van my lewe ondersteun sodat ek verder ’n verskil kon maak.”
Plaat se skool het eers by die Somao-hotel begin danksy die hulp van die bestuur, en is vir twee jaar van daar af bedryf. Nadat die hotel verkoop is, het Plaat besluit om haar motorhuis in haar eie skool om te skep waar sy vir vyf jaar bedrywig was.
Volgens Plaat was dit altyd haar man se droom dat sy eendag haar eie perseel moet hê. Ná sy dood in Januarie 2021 weens Covid-19 het hy voorsien dat hierdie droom ’n werklikheid kon word. Plaat het in Februarie 2022 haar skooltjie se deure oopgemaak.
Sy sê sy is dankbaar vir die ondersteuning en liefde van haar man deur die jare asook die ondersteuning van haar personeel.