Die kykNET-buite-ekspo Wes-Kaap word van 25 tot 27 Maart by Môreson-plaas net buite Malmesbury aangebied.
Die ekspo beloof weer om soos altyd iets vir almal te bied. Die fokus is weer eens op die talle buitelewe-uitstallers wat van die nuutste produkte wat tans in die buitelewe- kampeer- en 4×4-mark beskikbaar het, uitstal. Onthou – die geleentheid word in ’n veilige plaasatmosfeer aangebied en alle uitstallings word aangebied soos wat mense dit werklik sal gebruik.
Verskeie aktiwiteite word weer as deel van die ekspo aangebied. Hierdie jaar is Action Ford van Malmesbury weer aan boord met die Ford Raptor-ervaring en Maniac 4×4, waar besoekers gratis saam met ervare bestuurders kan ry om te sien waartoe hierdie ongelooflike voertuie in staat is.
Besoekers kan ook die gewilde helikopterritte ervaar en die Swartland uit die lug bekyk.
’n Lekker braaikompetisie word saam met Jimmy’s Sauces en kykNET-akteurs aangebied, en moenie vergeet van die Hankook-kunstenaars wat gaan optree nie, onder wie Rooies en sy orkes, Desmond Wells, Johan Liebenberg, Wynand Windpomp, Dewald Dippenaar, Chereé, Amoré en Early B.
Besoekers kan ook gratis saam met die immer gewilde “Mnr 4×4”, André de Villiers van André 4×4 en aanbieder van Safari 4×4-roetes op kykNET, in sy VW Amarok ry. Hierdie ervaring is iets wat nie gemis mag word nie!
Kraakvars nuus is dat Johan Badenhorst van Voetspore-faam ook Vrydag en Saterdag by die ekspo sal wees om sy reisgidse, “Voetspore Suid-Afrika”, in die Wes-Kaap bekend te stel. Hy sal by die Bush lapa-uitstallings wees om die boeke te verkoop en te teken of om net ’n geselsie aan te knoop.
Oudergewoonte sal besoekers nie teleurgestel word met die “vloeibare verversings” nie, en dit beloof om weer uit die boonste rakke te wees. ’n Groot verskeidenheid sal beskikbaar – enigiets van ’n verskeidenheid wyne uit die Swartland Kelders-wyntuin (met heerlike kos wat hierby pas), tot bier en jou gunsteling- Buffelsfontein-brandewyn, en baie meer.
’n Groot verskeidenheid kosverskaffers sal toesien dat niemand honger bly nie – en wie kan nou nee sê vir lekker feeskos?
Vroue sal ’n kuns- en snuffelmark kan geniet waar ’n groot verskeidenheid gehalteprodukte beskikbaar sal wees.
Die ekspo-aanbieders het nie van die kinders vergeet nie en bied ’n lekker groot pretpark aan waar Lollos en Lettie die kinders die Sondagoggend met een van hul treffer-vertonings sal verras.
Onthou ook – hoewel baie aktiwiteite aangebied word, bly die fokus natuurlik op die vooraanstaande buitelewe-produkuitstallings.
Beperkte kampering is op terrein beskikbaar. Doen aansoek per e-pos by admin@moresonmalmesbury.co.za.
Die puik “glamping”-tente kan bespreek word by ryno@you2camp.com.. Dagbesoekerkaartjies is beskikbaar deur Ticketmaster by ekspo.co.za en ook by die hekke gedurende die ekspo. Probeer egter so ver as moontlik kaartjies aanlyn deur Ticketmaster koop om dinge by die hekke te vergemaklik.
Streng Covid-19-protokol sal geld – soos vereis – om almal op die terrein te beskerm. Dagbesoekers hoef nie teen Covid-19 ingeënt te wees nie, en geen Covid-19 toetsbewyse word verlang om toegang te verkry nie.
Besoek gerus die webwerf by www.ekspo.co.za en rig verdere navrae aan Tersia by accounts@ekspo.co.za.. Vier gelukkige Swartland Gazette-lesers kan elk ’n dubbelkaartjie na die ekspo wen.
Stuur jou naam, kontaknommer en waar die ekspo plaasvind per SMS na 37173 (R1,50 per SMS) voor Vrydag 18 Maart. Die wenners sal telefonies gekontak word.