Plaaslike polisiebeamptes hard aan die werk by ’n onlangse gesamentlike misdaadbekamping- en veiligheidsveldtog waarby onder andere die Darling-polisie, Swartland se honde-eenheid en die verkeersdiens betrokke was. Behalwe om dronk bestuurders van die pad te verwyder, is die fokus van hierdie soort geïntegreerde optredes ook om dwelmsmokkelaars vas te vat.


Dwelmsmokkelaars moet uit Darling gejaag word!

In ’n neutedop was dít die algemene gevoel onder almal wat Donderdag 28 April die Darling-polisie se misdaad-Imbizo bygewoon het.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het die gemeenskap genoeg gehad van dwelmsmokkelaars wat die plaaslike jeug se lewe vernietig.

“Dwelmmisbruik lei tot meer geweldmisdaad in die gebied,” sê Filander en voeg by daar is ’n duidelike verwantskap tussen dwelmgebruik en sake van aanrandings, poging tot moord en moord wat deur die polisie ondersoek word.

Slegs in die tydperk van 17 tot 29 April is 13 mense met betrekking tot dwelmverwante klagtes in hegtenis geneem nadat die polisie op Mandrax-tablette en tik beslag gelê het.

Vyf mense is in hierdie tyd weens aanranding in hegtenis geneem en twee vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die gebruik van dwelms word by baie van hierdie sake betrek.

Tydens die Imbizo is ’n beroep op die gemeenskap, buurtwag, gemeenskaps­polisiëringsforum, buurtwagte en straatkomitees gedoen om opnuut hande te neem “om hierdie euwel in ons midde uit te roei,” het Filander gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.