Duwayne Damon maak Piketberg en die Wes-Kaap trots met sy uitmuntende atletiek-prestasie.
Duwayne, ’n leerder aan Steynville Sekondêr, is die naasbeste in die land vir seuns o.17 in verspring.
Duwayne is trots dat hy sy provinsie kon teenwoordig en dat hy tans hierdie titel dra.
Hy het Woensdag 16 Maart aan die SA skole-atletiekbyeenkoms in Germiston deelgeneem, waar hy dié tweede plek met ’n sprong van 7.30 m behaal het. Hy het vroeër aan die Wes-Kaapse hoërskole- atletiekbyeenkoms deelgeneem en sy Boland-kleure met die eerste plek met 7.32 m behaal.
Duwayne het aan Gazette gesê hy het dit glad nie verwag nie. “Ek was heeltyd op my senuwees, maar ek het myself gekalmeer en met my laaste sprong het ek nie geweet of gedink dat dit my die tweede beste in die land in verspring sou maak nie.”
Richard Erasmus, die sportkoördineerder van sy skool, sê die skool, die breë Piketberg-gemeenskap en inwoners in Duwayne se tuisdorp (Moorreesburg) bars van die trots.
“Om ’n atleet te hê wat die tweede beste in die land in sy ouderdomsgroep is, gebeur nie aldag nie. Hy is ook Steynville Sekondêr se eerste Boland-atleet in bykans ses jaar,” sê Erasmus.
Min het Duwayne geweet nog ’n verrassing wag Dinsdag (22 Maart) by die skool. Hy is hartlik met plakkate van ondersteuning en die juigende gille van sy medeleerders verwelkom.
Ray van Rooy, die Bergrivier-munisipaliteit se burgemeester, het met Duwayne gepraat. Van Rooy het gesê hy is baie trots op Duwayne en sy prestasie omdat hy nie toegelaat het dat die omstandighede waarin hy grootgeword het, hom onderkry nie, en tweedens omdat Van Rooy self ’n oudleerder van Steynville Sekondêr is en dit hom trots maak om met die skool geassosieer te word. Van Rooy moedig almal aan om Duwayne se voorbeeld te volg en te kyk hoe ver hy gekom het tot hier.
“Ek moedig Duwayne aan om nie te gaan lê nie en voort te gaan om sy skool, land en tuisdorp by die Olimpiese Spele te teenwoordig. Niks is onmoontlik by die Here nie.”
Duwayne deel dieselfde sentimente en wil graag verder presteer.
Samuel Walters berig die Wes-Kaapse minister van sport, Anroux Marais, het Duwayne met ’n paar nuwe spykerskoene (“spikes”) vereer.