Druiwe gaan die tafels laat kreun

Tafeldruif-liefhebbers kan een van die dae weer lekker smul aan kraakvars druiwe nadat oestyd vir produsente in die Wes-Kaap reeds begin het – weliswaar 10 dae later as verlede seisoen.


Tafeldruif-liefhebbers kan een van die dae weer lekker smul aan kraakvars druiwe nadat oestyd vir produsente in die Wes-Kaap reeds begin het – weliswaar 10 dae later as verlede seisoen.

Só sê Clayton Swart van die verteenwoordigende Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (SATI).

Volgens Swart is die vroeë kultivars in die Bergrivier-streek sowat 10 dae later as verlede seisoen, wat toegeskryf kan word aan reën, maar ook koeler weer gedurende die voorbereidingsperiode, wat kan bydra tot ’n later begin van ’n oes. Hy voeg by dat daar wel nie ’n gevolgtrekking gemaak moet word dat daar reënskade was óf dat dit bygedra het tot die vertraging nie. “Dit is redelik normaal van jaar tot jaar dat die lente en die begin van somer koeler is wat gevolglik tot ’n oes lei wat bietjie later is.”

“Ons skat die Bergrivier sal ’n laagtepunt van 17,80 miljoen en ’n hoogtepunt van 19,5 miljoen – dus sowat 4,5 kg – kan behaal as die goeie weer en paktoestande voortduur. Dit sal in pas wees met verwagte groei, veral aangesien nuwe kultivars meer druiwe dra,” brei hy uit.

Hy sê verder die oes vir die streek lyk sover belowend en in pas met SATI se skatting. Hy sê damme is vol, goeie voorbereiding is gedoen vir groot korrels met goeie kleur en van goeie eetgehalte, dus kraakvars, en heerlike kleur van druiwekorrels word waargeneem.

“Op hierdie tydstip is die skatting en verwagting dat goeie opbrengste en volume in die streek behaal sal word. Namate die weer warmer word, neig middel tot laat kultivars om op te maak vir enige moontlike vertragings of as daar enige ietwat laer produksie sou wees as gevolg van ’n bietjie ongunstige weer aan die begin van die seisoen.”

Volgens hom sal produsente hul jare lange ondervinding gebruik om enige bottelnek-situasies so goed as moontlik te bestuur.

Ruan van der Mescht, hoofbestuurder by Wynkeldershoek buite Malmesbury, sê hy is opgewonde en verwag ’n bo-gemiddelde tafeldruifoes as alles volgens plan verloop. “Die druiwe wat hier is, lyk belowend en ons verwag goeie oeste,” voeg hy by.

Die meeste tafeldruifprodusente in die Swartland- en Bergrivierstreek het reeds verlede week begin pak. Hulle is dit eens dat hul vroeë kultivars ’n week tot twee weke laat is teenoor verlede seisoen.

Van der Mescht sê die reën in November en Desember het tydens die tafeldruiwe se blomstadium geval. Die middel -en later kultivars het egter normaal ontwikkel.

“Die vroeë kultivars soos Starlight en Midnight Beauties was redelik laat – twee weke – maar die middel- en laat kultivars het betyds ontwikkel, wat ’n effense bottelnek in die pakstore kan veroorsaak,” voeg hy by.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.