Al die verhale uit my kinderjare het een groot begeerte in my hart kom lê – die geleentheid om deur ’n groot woud vol bome te stap – nie ’n sommerso klompie bome waar jy die son van hierdie kant af kan sien skyn nie; o nee, my droomwoud moet so groot en donker en vol bome wees dat jy iewers in die middel daarvan na die son begin verlang. Ek wil deur ’n woud stap en stap tot ek uiteindelik kan verstaan waarom Sneeuwitjie ’n skoonmaakjoppie as uitkoms aanvaar het – in ’n huis met séwe dwergies!
Om in kindertyd in die Karoo hierdie wouddroom te bewaarheid, was onmoontlik. Geen doringboom of haak-en-steek het hom al in ’n woud laat aanplant nie.
En waar sal leiwater vir ’n woud vol Karoobome vandaan kom?
Geleidelik, soos drome dikwels maak, gaan lê hulle in ons almal se onderbewussyn soos ’n latente saadjie, wat soms nooit weer nie, maar partykeer in gunstige tye, weer die kop uitsteek.
So kry ek vroeg vanjaar kans om deur die groot-groot woud van my drome te stap toe ’n klompie van ons langs Witrivier se Klipkopje-dam piekniek hou. Een van Mmpumalanga se aangeplante plantasies grens aan die dam, dus val die geleentheid sommerso “ploems!” soos ’n nuwejaarskoek in my skoot.
Ek pak dit kaalvoet aan – om alles beter te kan voel, my kind.
Ek beleef honderde dennebome voor my, agter my, aan weerskante van my, met hul lewegewende takke wat eers op ’n hoogte bokant my kop begin uitsprei.
Die grondreuk, vermeng met die effense soet van dennenaalde en vars, en skoon lug maak my longe bly.
Ek stap doelbewus stadig sodat die woud se gewaarwordinge my oorweldig: Sonstrepies wat stowwerig van alle kante af deur dennetakke na my toe beur, valerige paddastoele, ’n chipspapier met ’n laggende leeu daarop, voëltjies wat voor my uitskrik en elders vrolik begin sing, dennenaalde wat onder my voete “grrts”.
Jong boomstamme wat met aardse energie boontoe mik, leef 360 grade rondom my.
Ek onthou kinderjare se woudprente van boomstamme met kwaai of nors gesigte, soms ’n geheime deurtjie waaragter ’n kwaai dwerg of gawe fee woon, ’n fluisterende boom, of bome as redders waarbinne vlugtelinge wegkruip.
Ek verlustig my in hierdie woud vol gesiglose bome; ek bloot ’n spikkel binne ’n simbiose van organismes waarvan ek minder as die helfte kan sien.
Eers met die terugstap raak ek bly ek het nie soos Rooikappie toegegee aan die aanhoudende versoeking om af te draai in hierdie woud vol moontlike roetes nie. Hoe anders sou ek weer my mense vind?
Skemeraand, op pad na Witrivier se Bagdadsentrum, voel ek die tevredenheid oor my vou. Maar diep binne my begin ’n nuwe onrus knaag: Ek – wat nie eens ses plante in ’n reguit ry kan plant nie – sal moet uitvind hoé kry plantasie-aanplanters dit reg om duisende bome vanuit elke hoek en lyn beskou, dit dodelik sekuur in eksie-perfeksie rye te plant.