‘n Droë winter wag op die Wes-Kaap, terwyl die oostelike kusgebiede swaar reën kan verwag, wat moontlik oorstromings kan veroorsaak.
Só voorspel die Suid-Afrikaanse weerdiens.
Die suidwestelike dele van die land kan dus ‘n droë herfs en winter in sy reënseisoen verwag.
Die voorspelling hou ernstige gevolge vir wintergewasse en watersekerheid in.
Daarteenoor kan die suidelike en oostelike kusgebiede ‘n besonder nat winter verwag.
In sy maandelikse seisoenale klimaatvoorspelling, wat vyf maande vooruit kyk – tot die einde van Augustus – sê die weerdiens seisoenale veranderinge raak die suidwestelike dele van die land en die suidelike en oostelike kusgebiede.
“Die suidwestelike dele van die land sal waarskynlik ondergemiddelde reënval ontvang, terwyl die suidelike en oostelike kusgebiede waarskynlik bogemiddelde reënval sal ervaar,” lui die voorspelling.
Maksimumtemperature in die meeste dele van die land sal waarskynlik hoër as die gemiddelde wees. Dié neiging heers al maande lank en bly onveranderd.
Die landbousektor in die Wes-Kaap het sy kommer ná die jongste voorspelling, wat op 31 Maart uitgereik is, uitgespreek.
Die Wes-Kaap is Suid-Afrika se grootste produsent van wintergewasse, insluitend koring.
Koringboere sal dus die volgende weervoorspelling aan die einde van April goed bestueer. Dit dien ook as riglyn vir die komende saaiseisoen en word kort voor grondvoorbereiding en aanplanting uitgereik.
Verder het die weerdiens bevestig dat die La Niña-weerverskynsel verby is en die El Niño- suidelike ossillasie (Enso) tans in ‘n neutrale fase is.
La Niña bring gewoonlik goeie reënval vir suidelike Afrika, terwyl El Niño dikwels droogtes meebring.
Enso se invloed is minder prominent in die winter.