Drie hoërskoolleerders uit die Swartland is eersdaags op pad na Durban waar hulle hul skool, klub en vereniging op nasionale vlak by ‘n raakrugbytoernooi gaan verteenwoordig.

Paul Titus (18), Daversin Witbooi (16) en Elwingo Eksteen (13) – leerders van Wesbank Sekondêr sê raakrugbyklub –het hul harte [op dié spel] verloor.

Paul en Elwingo het eers aan die einde van Junie vanjaar by die raakrugbyklub onder leiding van die hoofafrigter en voorsitter van Stepping Stones (‘n organisasie sonder winsbejag), Brendon Kotella, in Kalbaskraal aangesluit, terwyl Daversin al sedert 2018 op ‘n jong ouderdom by die klub betrokke is. Spelers van dié raakrugbyklub oefen naweke saam met die raakrugbyunie die Western Cape Islanders, wat deel is van die Wes-Kaap se Raakrugby-vereniging.

Paul Titus (18)
Paul Titus (18)

Volgens die afrigter is dit waar die drie spelers se vernuf op die veld deur die hoofafrigter van die DHL WP en vaardigheidsafrigter van die Stormers, Labeeb Levy, raakgesien is.

Die Notties-raakrugbytoernooi vind

van 4 tot 6 Oktober by die Kingspark-rugbystadion plaas, waartydens spelers van oor die land heen hul raakrugbyunie sal kan verteenwoordig.

Volgens Paul en Elwingo gaan die spel vir hulle oor baie meer as net die blote genot daarvan. “Jy bring tyd saam met jou spanmaats deur wanneer jy op die veld is,” voeg hulle by.

Elwingo Eksteen (13)
Elwingo Eksteen (13)

Paul spreek sy dankbaarheid teenoor die Hemelse Vader uit, wat hom die gawe gegee het om te kan speel. “Die spel leer jou verder dissipline en ook respek vir ander op die veld, maar ook weg van die veld af,” voeg hy by.

Daversin, wat in Kalbaskraal self woon, hoop om sy land aanstaande jaar in Nieu-Seeland te verteenwoordig. Hy geniet die vaardighede wat hy deur die spel leer en ook om fiks te bly.

Elwingo sê op sy beurt dit is sy grootste droom om eendag vir die groen en goud uit te draf.

Volgens Kotella word ‘n reeks geld-

insamelingsprojekte van stapel gestuur om seker te maak die spelers kan die toernooi bywoon. Hy sê talle kostes word uit sy eie sak gedek, maar vir hom gaan dit oor die jeug en hul toekoms. “Hulle sal daar uitkom,” sê Kotella positief.

• Inwoners of ondernemings wat daarin belangstel om betrokke te raak en wil help om die drie leerders se drome te verwesenlik, kan Stepping Stones vir inligting kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.