Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het verlede week die Drakenstein-munisipaliteit se uitnodiging aanvaar om die vallei se groeiende toerisme- en ekonomiese ekosisteem eerstehands te kom beleef.
Tydens Meyer se besoek op Vrydag 20 Junie het hy en die munisipale afvaardiging by die Paarl Boutique in Hoofstraat asook by die Dunstone-landgoed in Wellington se Bo-vlei-gebied ingeloer.
Daar is hy touwys gemaak oor hoe ondernemings in ‘n mededingende bedryf kop bo water hou, maar terselfdertyd pogings aanwend om die plaaslike ekonomie ‘n hupstoot te gee en werk te skep.
UITNODIGING UITGEREIK
Chrismaré Carse, ‘n senior toerismebeampte by die munisipaliteit, het verduidelik dat die uitnodiging in Mei aan die provinsie tydens die munisipaliteit se deelname aan die Africa Tourism Indaba in Durban uitgereik is.
Daar het Laurichia van Niekerk, die burgemeesterskomiteelid vir toerisme, sport en ontspanning, vir Meyer raakgeloop.
“Ons het twee ondernemings gekies met baie mooi verhale oor hoe hulle hul geriewe gerestoureer en personeel opgelei en bemagtig het,” het Carse gesê.
“Ons wou graag aan die LUR wys hoe dinge hier op munisipale vlak gedoen word. Ons is ‘n munisipaliteit wat goed werk en dit is duidelik aan die hoeveelheid mense wat na die gebied gelok word. Ons hoop is dus dat die provinsie hierdie model van beste praktyke kan gebruik.”

OOP VIR TOERISME
Meyer het op sy beurt gesê te midde van die spanning en oorloë aan die internasionale front, moet Suid-Afrika as ‘n polities bestendige land die geleentheid benut en toeriste lok.
“Niemand wil in dié stadium Amerika toe gaan nie. Niemand sien weens die spanning in die streek nou meer kans vir die Midde-Ooste, wat ook op ‘n tyd baie toeriste gelok het, nie. Ons is gereeld in gesprekke met hierdie lande se ambassades en ons boodskap is dat Suid-Afrika – en spesifiek die Wes-Kaap – oop is vir toeriste.”
Sy raad aan die munisipale afvaardiging was om vir toekomstige toerisme-inisiatiewe “buite die boks te dink”.
Hy het ook gesê die munisipaliteit moet meer digitale maniere oorweeg om bestemmings in die streek te bemark.
Van Niekerk het ‘n beroep op die provinsie gedoen om na die tafel toe te kom en munisipaliteite te ondersteun vir plaaslike ondernemings om gefinansier te word.
Sy het genoem die munisipaliteit se wense is om ‘n sterker vennootskap met Wesgro, ‘n Wes-Kaapse agentskap wat toerisme, handel en belegging in Kaapstad en die groter Wes-Kaap bevorder, aan te gaan.
You must be logged in to post a comment.