Player dotting down for a try in rugby.
Foto slegs ter illustrasie. Foto: Hanson Lu/Unsplash

Twaalf talentvolle rugbyspelers – 11 seuns en een meisie – sowel as vier beamptes van skole in die Swartlandstreek, het onlangs groot trots aan die streek gebring met hul insluiting in verteenwoordigende Boland- en WP-spanne vir die 2025- nasionale Rugby-jeugweke.

Hierdie prestasie plaas die streek se sportontwikkeling in die kollig.

Die jeugweke vind plaas oor drie weke van 29 Junie tot 4 Julie in Oos-Londen (Oos-Kaap), 7 tot 12 Julie in Middelburg (Mpumalanga) en 13 tot 18 Julie by die Hoërskool Jeppe in Gauteng.

Dian Visagie (Laerskool Swartland), Sharief Warnick (St. Thomas Primêr) en Zavier April (Liebenberg Primêr) is in die Boland-o.13-Cravenweekspan. Thys van der Walt en Nathan Williams, albei van die Laerskool Swartland, speel vir die Boland-o.13-Akademiespan.

Twee opvoeders sal beamptes wees – Nick van der Westhuizen van St. Michael’s Primêr in Abbotsdale sluit by die Cravenweekspan aan terwyl Marinus Breedt van die Laerskool Darling die Akademiespan sal ondersteun.

In die meisiesrugbyafdeling is Megan Abrahams van die Hoërskool Swartland vir die WP-o.16-meisiespan gekies. Hoewel haar skool nie tans ‘n meisiespan het nie, kwalifiseer sy danksy haar deelname aan ‘n klub in die Westelike Provinsie se vroueliga.

Drie spelers van die Hoërskool Porterville is in die Boland-o.18-Cravenweekspan ingesluit: Linrique Mason, Joshua Steenkamp en Heinrich Reedlinghuis. Dieselfde skool lewer vier spelers aan die Boland-o.18-Akademiespan: Essien Muller, Heinz Jordain, Nicolai Diedericks en Clyde Daars.

Juandre Adams van Schoonspruit en Melchoir Botha van die Hoërskool Swartland is ook vir dié span gekies. Martin Dyason (afrigter) en Neathan Isaacs (spanbeampte) verteenwoordig die Swartlandstreek as deel van die afrigtingspan vir die Boland-spanne.

Die Hoërskool Middelburg is van 7 tot 12 Julie die gasheer vir die Cravenweek en die Akademieweek vir o.18-spelers.

‘n Inlywing-seremonie vir die o.13-Cravenweek- en Akademiespanne word vir Donderdag 26 Junie by die Hoërskool Goudini in Rawsonville beplan, waarna die spanne Vrydag 27 Junie na Oos-Londen sal vertrek.

Elke deelnemer in die o.13 spanne is verantwoordelik vir ‘n bydrae van R8 400 om hul deelname te dek. Enige organisasie, sakeonderneming of individu wat die spelers kan ondersteun, is welkom om uit te reik.

  • Vir meer inligting of bydraes, kontak Nick van der Westhuizen via WhatsApp by 073 047 8403.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article