Dooie moordwalvis spoel op strand by Yzerfontein uit

Die oorskot van ’n moordwalvis is die afgelope Sondag (9 Februarie) op die strand van Yzerfontein aangetref.


Die oorskot van ’n moordwalvis is die afgelope Sondag (9 Februarie) op die strand van Yzerfontein aangetref.

Volgens Junré Marais, die stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut se Stasie34 in Yzerfontein, het personeel omstreeks 10:30 die eerste oproep van ’n inwoner wat die walvis in die see gesien het, ontvang. “Ons het ondersoek ingestel en bevestig dat die walvis nie verstrengel is nie.” Hy voeg by dat die walvis op haar sy gedryf het en dus reeds dood was.

Die walvis het omstreeks 14:10 in die omgewing van Pearl Bay, net suid van Schaapen-eiland, op die strand uitgespoel.

Volgens Marais is die walvis ’n wyfie van ongeveer 7 tot 7,5 meter lank.

“Sy was dood voordat sy uitgespoel het,” voeg hy by. Marais sê verder dit lyk weens die toestand van haar karkas of die walvis al ’n geruime tyd dood is.

Marais sê walvisse spoel eintlik gereeld op die strande van Yzerfontein uit – beide op die 16 Myl-strand en die Pearl Bay-strand.

“Die karkasse word in die meeste gevalle gelos om self te ontbind, maar indien dit ’n probleem vir inwoners raak, is dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid om dit te verwyder,” verduidelik hy verder.

Volgens hom sal monsters moontlik deur verteenwoordigers van verskeie instansies geneem word indien die walvis steeds toeganklik is, soos in die geval van die privaatmaatskappy, Sea Search wat intussen ‘n permit van die departement van omgewingsake, bosbou en vissery verkry het om die walvis te onthoof vir verdere navorsingsdoeleindes. Die walvis is Sondagaand onthoof.

Marais het inwoners wat graag na die walvis wil gaan kyk, gewaarsku dat die toneel nie vir sensitiewe kykers ideaal is nie.

Die betrokke owerhede is van die situasie in kennis gestel, het die NSRI bevestig.

  • Hierdie berig bevat nuwe inligting wat nie in vandag (11 Februarie) se gedrukte publikasie verskyn het nie, aangesien die koerant reeds by die drukkers was.

You need to be Logged In to leave a comment.