Wat ’n gewone vrolike oggend moes wees, het onlangs vir ’n paar inwoners van Goodwood in ’n oggend van skok en afgryse verander toe hulle ’n dooie hond langs die spoorlyn naby Dirkie Uysstraat gevind het.
Leon Botha, wat op die grusame toneel afgekom het toe hy op pad was om klippe uit die pad te verwyder, meen dit is afgryslik dat iemand so iets aan ’n onskuldige dier kan doen.
’n Hond is gevind met sy bene vasgebind en ’n sak oor sy kop getrek.
Die rede vir die doodmaak van die hond is nog nie bekend nie. Dit blyk wel dat die hond na bewering geskiet is. By die huis oorkant die toneel was daar geen antwoord nie en omdat daar geen mikroskyfie op die hond gevind kon word nie, is sy eienaars ook nog nie opgespoor nie.
Dit is die tweede geval in dieselfde omgewing waarin ’n hond in ongewone omstandighede dood aangetref is.
Op 8 Februarie is daar ook ’n hond in dieselfde omgewing dood aangetref.
Hoewel die skare op die hoek van Dirkie Uysstraat groter geword het soos almal wou sien wat op die toneel gebeur, het dit ure geneem voordat enige amptelike voertuig opgedaag het.
’n Woordvoerder van die Cape of Good Hope SPCA sê omdat daar geen verdagtes is nie, is daar nie veel wat hulle kan doen nie. Hulle verwyder ook nie dooie diere nie.
Botha, lid van die Foundation Against Crime, sê hy het ’n sekerheidsvoertuig ook langs die spoorlyn op en af sien ry en het die beamptes later oor die hond uitgevra. Hulle het egter gesê hulle weet van niks nie.
Botha sê honde word dikwels doodgemaak sodat daar by huise ingebreek of gesteel kan word.
Madelein Myburgh, bestuurder van die Animal Anti-Cruelty League in Kaapstad, het bevestig die voorval word ondersoek.