Donker wolk van misdaad hang oor Malmesbury

’n Donker gemoed het die afgelope naweek weer in Malmesbury geheers weens twee moorde en ’n skietvoorval waarin ’n jong man ernstig gewond is.


’n Donker gemoed het die afgelope naweek weer in Malmesbury geheers weens twee moorde en ’n skietvoorval waarin ’n jong man ernstig gewond is.

Die eerste moord was in Muisvoëlstraat, Wesbank, Saterdagaand (15 Januarie) skuins voor middernag. Die omstandighede en motief vir die moord word nog ondersoek, maar ’n 19-jarige is weens die moord op Mbulelo Xeketwana in hegtenis geneem en verskyn vandag (Dinsdag 18 Januarie 2022) in die Malmesbury-landdroshof op aanklag van moord. Mbulelo is met ’n enkele steekwond in die bors aangetref.

In die tweede voorval Sondagoggend (16 Januarie) is die liggaam van Cheslyn Bruintjies kort ná 02:00 in Alfastraat ontdek. Die oorledene is verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek waarna, sy liggaam met klippe bestook is. Vier verdagtes, onderskeidelik 18, 19, 24 en 26 jaar oud, is aangekeer. Die omstandighede van dié voorval word ook nog ondersoek. Die vier verdagtes verskyn ook vandag in die Malmesbury-landdroshof.

In die laaste voorval wat laat Sondagaand in Vinkstraat, Wesbank, voorgekom het, het drie mans na bewering by ’n woning aangeklop op soek na die slagoffer.

Toe ’n man die deur van die woning oopmaak, is op hom geskiet. Die verdagtes het per voet van die toneel af gevlug.

Die slagoffer is per ambulans na die Swartland-hospitaal geneem.

Die drie verdagtes is bekend aan die polisie en is steeds op vrye voet.

Die publiek word gevra om die polisie te help met enige inligting wat hulle kan help om die verdagtes op te spoor, en kan kapt. Gary Stoffels van die Malmesbury-speurtak by 022 487 2801 of 082 956 6288 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.