D’ling kon nie kis laat sak

Darling het Saterdag die “Grafkelder” in Pella besoek vir sy tweede vriendskaplike wedstryd van die jaar teen Young Hearts.


Darling het Saterdag die “Grafkelder” in Pella besoek vir sy tweede vriendskaplike wedstryd van die jaar teen Young Hearts.

Die eerste helfte was baie gelykop en die besoekers het verskeie kanse deur hul bottervingers laat glip om goeie bewegings met aanslaanwerk te laat skipbreuk lei. Darling, wat egter die meeste van die verdedigingswerk moes doen, het telkens wat hy in die tuisspan se kwartgebied gekom het, balbesit met swak dissipline of swak hanteerwerk verloor.

Die tuisspan het eerste bloed geruik en sy neus met ’n onverdoelde drie voor gekry. Beide spanne moet egter krediet kry vir rotsvaste verdediging en aanvallende spel. Darling het egter meer strafskoppe afgestaan en ook baie lynstaanbesit aan die tuisspan afgestaan, wat baie gebiedsvoordeel aan die tuisspan besorg het. Die twee spanne het gaan water drink met die telling 0-5 in die tuisspan se guns.

Die tweede helfte het teen ’n vinnige tempo begin en die tuisspan het weer eerste bloed geruik met ’n verdoelde drie om die telling 0-12 te maak. Darling se karakter en veggees het egter volhard, maar die melkboere kon nie die tuisspan se doellyn oorsteek nie. Die besoekers se rotsvaste verdediging het hulle steeds in die wedstryd gehou, maar namate die tyd minder geraak het, het die kanse ook skraler geraak dat die besoekers die tuisspan se kis in die grafkelder kon laat sak. Die tuisspan het die wedstryd met nog ’n verdoelde drie verseker en met 0-19 kon net ’n wonderwerk die span van Neil Papier van ’n nederlaag red.

Darling het egter nooit opgegee nie en die tuisspan steeds met aanvallende rugby getoets. Die damwal het uiteindelik gebreek toe Darling ’n verdoelde drie behaal het. Met die skrif egter reeds aan die muur het die besoekers verwoed aangeval, maar die tuisspan het nie besgegee nie. Die eindtelling was 7-19.

Wesbank het ook op sy tuisveld verrassend 5-17 teen Mamre vasgeval. Ander uitslae is: Koringberg 31-27 teen St. Helenabaai; Never Despair 26-5 teen Young Eagles. . Klubs het egter Saterdag slegte nuus gekry. Met liga verpligtinge wat eerskomende naweek sou begin, het Boland egter besluit dat alle wedstryde tot 23 April uitgestel word sodat spelers ingeënt kan word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.