Die jaarlikse Wine on the River is om die draai en soos gewoonlik beloof dié geleentheid, wat vanjaar van 16 tot 18 Oktober by Viljoensdrift plaasvind, om hope pret vir die hele gesin in te hou.
Proe meer as 300 wyne van oor die 40 wynmakerye, smul aan die oorvloed van eersteklas eetgoed en drink die passievolle melodieë van lewende jazz- en blues-musiek in. Kyk en koop na hartelus by die Robertson Boeremark, dwaal deur die kuns en kunsvlyt, neem deel aan ’n rustige bootvaart op die rivier of geniet meesterproeë.
Met spesiale toegangspryse vir pensioenarisse en kinders onder 18 jaar geniet gratis toegang, terwyl die aktiwiteite vir kinders op ’n deurlopende betaal-basis werk, is dié fees ’n moet vir die kalender.
Gerieflike toegewese parkeerareas sal duidelik op pad na die terrein gemerk wees. Vir besoekers wat ver van die terrein parkeer sal daar ’n pendeldiens wees om hul na en van die fees te vervoer.
Met wyne wat op die terrein teen kelderpryse verkoop word, bied Robertson Wine on the River die perfekte geleentheid om jou voorraad aan te vul met jou gunsteling Robertson-wyne wat bekend is om hul uitstekende waarde vir geld, van alledaagse tot eersteklas wyne.
’n Opwindende nuwe toevoeging tot die fees is die eerste jaarlikse Duck Derby, aangebied deur Sanlam Alternatiewe Beleggings in samewerking met Karin’s on Main Bed-en-ontbyt in Bonnievale. Die opbrengs uit hierdie inisiatief sal geskenk word aan die Bonnie-People-projek in Bonnievale, wat inwoners van dié dorp help met die bou en ontwikkel van volhoubare komponente in hul gemeenskap wat fokus op die toekoms van hul kinders.
Vir meer inligting oor die fees en besonderhede oor verskillende aanbiedinge, besoek die webtuiste www.wineonriver.co.za.
Kaartjiepryse vir die fees wissel van R80 tot R130 vir die Saterdag en Sondag en R160 tot R250 vir ’n naweekkaartjie. Vir volle besonderhede oor die pryse besoek www.webtickets.co.za