Vervolg van bladsy 1

Oor die gehalte van vars produkte, het Luan sy proses stap vir stap verduidelik.

Boaan die prioriteitslys is om seker te maak die lot wat hy inkoop, is kraakvars. Dan kyk hy na die gehalte, wat hy teen sy standaard meet: “Is dit ’n vars produk wat ek gemaklik sou wees om te eet?”

Hy het erken dat hulle partykeer wel ’n tweedegraadse produk, wat steeds van goeie gehalte is, sal aanskaf. In hierdie geval word die produk dan só bemark en ook teen ’n laer prys aangebied. “Die Groenteman se hoofdoel is om die boeregemeenskap te bevorder. Baie van die boere trek maar erg swaar en markpryse help nie altyd veel nie. Daar is baie kostes wat ophoop om ’n plaas aan die gang te hou. So, omdat ek ’n verhouding met hierdie boere aanknoop, weet ek waardeur hulle gaan en help waar ek kan. Deur dit te doen kry ek ook die geleentheid om hierdie produk aan verbruikers te verskaf en probeer dit so ver moontlik persoonlik te doen – weer eens om vertroue te skep. Tweedens probeer ons om die produkte tot so naby moontlik aan die verbruiker te bring deur dit af te lewer of by ’n punt te bring wat dit vir hulle maklik maak.”

Op ’n vraag oor die verband wat sy werk hou met die soort mens wat hy is, het Luan geantwoord: “Die eerste keer toe ek ’n vars produk verkoop het, was ek so ses of sewe. Ek het radyse gekweek en in die buurt waar ek grootgeword het, verkoop. Ek is nog altyd ’n entrepreneur wat iets wil skep en verkoop. So, ek dink dit is maar in my om so iets te doen. Boonop hou ek van geleenthede raaksien en hierdie was nog een. Ek is ook dol oor mense, en ons ontmoet hierdeur baie nuwe mense en knoop lekker gesprekke aan!”

Luan het natuurlik ná skool verder studeer, en tussenin sport afgerig en ook houtwerk gedoen en meubelstukke of geskenkies verkoop. Hy het in ’n houtfabriek gewerk voordat hy in 2018 as gekwalifiseerde meganiese ingenieur na besproeiings beweeg het, wat in April 2021 tot sy eie maatskappy gelei het. Die plaaslike gemeenskap se steun beteken dat Luan kan aanhou om steun aan boere wat die broodnodigste het, te bied. “Dit is krities dat ons plaaslike boere oorleef, maar dan moet hulle winsgewend wees. Hoe meer ons by hulle teen ordentlike pryse kan koop, waar hulle nie voel hulle word ingeloop nie, hoe beter is dit vir die hele gemeenskap,” het hy gesê.. Kontak Die Groenteman per WhatsApp by 082 623 2867; of hou die Facebook-blad dop.

You need to be Logged In to leave a comment.