DÍs hoe die 2019 begroting jou sak gaan raak

Lag en betaal is die wet van Transvaal! Dis maar die kruks van die begroting wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag by die parlement ingedien het. Hier is ’n vinnige opsomming van hoe dit jou sak raak.


Lag en betaal is die wet van Transvaal! 
Dis maar die kruks van die begroting wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag by die parlement ingedien het. Hier is ’n vinnige opsomming van hoe dit jou sak raak. 

1. Toelaes styg met so min as R20 per maand: Die staat se hulp aan bejaardes, gestremdes en ouers styg vanjaar met die inflasiekoers, maar in randwaarde is dit kwalik ’n brood en ’n melk se geld werd. Die staatspensioen styg met 5%, oftewel R85, tot R1 780 vir mense van 60 tot 74 jaar en tot R1 800 vir mense van 75 jaar en ouer. Die kindertoelae styg met 4,9%, oftewel R20, tot R425 per kind. Die toelae vir gestremdes en die sorgafhanklikheidstoelae styg met 5%, oftewel R85, tot R1 780. Die pleegsorgtoelae styg met 4,2%, oftewel R40, tot R1 000. Lees ook: Só styg staatstoelae 

2. Jou verhoging gaan jou dalk in ’n hoër belastingkerf plaas: Géén aanpassing is aan belastingkerwe aangebring nie. Dit beteken baie mense sal ná hul jaarlikse verhoging vanjaar in ’n nuwe belastingkerf val en ’n groter persentasie van hul verhoging aan belasting opdok. 

3. Kraantjie vir mediese fondse toegedraai: Die belastingkrediete op mediese fondse word vir die eerste keer nie verhoog nie. Die hooflid en eerste bykomende lid kry korting van R310 elk en bykomende afhanklikes R209 elk. 

4. Staatsamptenare kan vroeg aftree: Die tesourie het bekend gemaak dat hy vervroegde aftreepakkette vir staatsamptenare beskikbaar sal stel om sy salarisrekening te probeer snoei. 

5. Petrol gaan 29c per liter duurder word: Die algemene brandstofheffing styg op 3 April met 15c per liter. Die Padongelukkefondsheffing styg met 5c per liter. Dit beteken die totale styging op 3 April voordat die maandelikse verandering weens oliepryse en die rand-dollar-wisselkoers bygereken is, sal 20c per liter wees. Op 5 Junie word ’n bykomende heffing op brandstof van krag, naamlik die koolstofheffing. Dit sal 9c per liter petrol en 10c per liter brandstof beloop. Geen dieselrabat sal hierteen geëis kan word nie. 

6. “Kuier” word peperduur: As jou vleisbraaikuiertjies ’n paar biere of brandewyn en Coke en ’n sigaret of drie insluit, moet jy dalk gesonder opsies oorweeg. Aksyns op alkohol en tabak – die sogenaamde “sondebelastings” – styg soos gewoonlik met heelwat meer as die inflasiekoers. Hier is die belangrikste belastingstygings (die bedrae is die aksyns): Bier, sider en “sletsappies”: Styg tot R1,74 per 340 ml-blikkie; Wyn: Styg tot R3,15 per 750 ml-bottel; Vonkelwyn: Styg tot R10,16 per 750 ml-bottel; Spiritualieë (whisky, brandewyn, wodka): Styg tot R65,84 per 750 ml-bottel; Sigarette: Styg tot R16,66 per 20 sigarette. Lees ook: Só gaan jy opdok vir ’n drankie of ’n dampie. 

7. E-sigarette gaan ook belas word: Moenie dink dit gaan help om jou sigarette weg te gooi en elektroniese opsies te oorweeg nie. Die tesourie werk saam met die departement van gesondheid aan wetgewing om elektroniese sigarette en tabakverhittingsprodukte soos sigarette te belas. Dit kan dalk volgende jaar van krag word. 

8. Jy beter jou soettand trek: Gaskoeldrank en vrugtesap wat met suiker versoet is, gaan in April ’n paar sent duurder word. Die suikerbelasting (sy amptelike naam is die gesondheidsbevorderingsheffing) word verhoog van 2,1c per gram suiker per 100 ml koeldrank tot 2,21c per gram per 100 ml. 

9. Nee vir NGV: Die tesourie bewillig net klein bedraggies vir Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) – grootliks steeds toetsprojekte – en sê hy gaan nie meer geld aan die NGV gee voordat die openbare gesondheidsektor verbeter het nie. Lees ook: Tito trek streep in sand oor NGV 

10. BTW op sanitêre doekies en meel val gou weg: Die tesourie het bevestig dat drie nuwe artikels vanaf April van belasting op toegevoegde waarde (BTW) vrygestel word: koekmeelblom, broodmeel en sanitêre doekies. Dis nou benewens die lang lys produkte en dienste, van vars groente tot bone en skoolgeld, wat reeds van BTW vrygestel is.

(Die berig is saamgestel deur Paarl Post, susterskoerant van Swartland Gazette).

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.