Edwill Schippers en Elsebee Wilson sou op 3 April trou aan mekaar beloof, maar moes weens die Covid-19-pandemie hul troue uitstel.



Hulle sou môre (10 April) reeds ’n week getroud gewees het, maar weens die Covid-19-pandemie is ’n paartjie van Riebeek-Wes genoodsaak om hul intieme troudag uit te stel.

Elsebee Wilson (31) en Edwill Schippers (35), wat al drie jaar saam is, sou Vrydag 3 April om 16:00 trou aan mekaar beloof. Dié seremonie sou gevolg word deur ’n intieme ete by Bay Leaf & Thyme in Riebeek-Kasteel met net 30 van hul naaste familie en vriende. Elsebee werk by Bay Leaf & Thyme.

Maar ten spyte daarvan dat daar minder as 50 gaste sou wees, moes die spesiale dag eers op ys geplaas word nadat president Cyril Ramaphosa ’n nasionale staat van inperking vanaf 26 Maart tot 16 April ingestel het. Volgens dié inperking mag niemand, behalwe diegene wat noodsaaklike dienste verrig en die nodige permit het, buite hul huise wees nie.

Elsebee sê die dag het egter nie sonder ’n bietjie heimwee en hartseer verbygegaan nie.

“Ek het vir hom Vrydagoggend gesê ek sou nou haarsalon toe gegaan het. Om 14:00 het ek vir hom gesê: ‘Liefie die fotograaf sou nou al hier gewees het’. Om 15:45 stuur Edwill se suster vir my ’n boodskap om te sê hulle ‘wag’ vir my in die kerk en 16:00 toe sê ek vir hom ek stap nou in die kerk in. So, soos die tyd aangegaan het, het ons maar vir mekaar gesê wat op daardie oomblik sou gebeur. Die aand se kant toe sê ons vir mekaar ons is nou mevrou en meneer Schippers. Ek was opgewonde oor die dag en dit was maar ’n bietjie hartseer gewees.”

Hoewel sy die droomdag vir nou eers net in haar kop moes laat afspeel, sien sy uit na die dag dat sy en Edwill voor hul familie en vriende hul troubeloftes kan aflê.

“Edwill het ook vir my gesê: ‘Liefie, moenie worry nie, ons gaan trou, dis maar net as gevolg van die lockdown dat alles nou bietjie op hold is’.”

Die paartjie moet nog ’n nuwe troudatum vasmaak.

“Ons weet nou nie wat volgende week gaan gebeur nie so ons wag nou eers om te kyk wat die president sê ná volgende week en dan sal ons ’n vaste datum kry. Ons wil nie nou ’n datum gee en dan moet ons dit weer uitstel nie.”

Sy sê hulle was gelukkig om alles net op ys te kon sit en het nie nodig gehad om enigiets te kanselleer nie. “Ons het net almal gebel en gesê ons sal weer die nuwe datum bevestig.”

You need to be Logged In to leave a comment.