Leonita Coutts van Malmesbury het onlangs aan ’n taai nasionale gedigtekompetisie deelgeneem en goed presteer.
“Die kompetisie het behels dat alle deelnemers van 15 November af vir 10 weke weekliks ’n nuwe opdrag kry wat hulle moes uitvoer. Die slaagvereiste was hoog (70%) en het geleidelik hoër geraak namate die kompetisie gevorder het. Ek het baie gestres, want vir party opdragte moes ek eers goed soos ‘jambiese versreëls’ gaan Google… en ’n HAT iewers leen.”
Hoewel party deelnemers reeds in die eerste week uitgeval het, het Leonita se skryfwerk baie positiewe reaksies uitgelok.
Toe sy in die negende week uitval, was die vereiste standaard 75%, met haar inskrywing net-net onder dit.
“Ek het baie geleer, en ek gaan nog meer leer voor die volgende kompetisie later vanjaar!”
Nadat sy haar debuutdigbundel in 2020 in Engels uitgebring het, werk sy nou hard aan ’n tweede bundel – hierdie keer in Afrikaans. “Dig het my lewe oorgeneem.”
Leonita het tydens haar pad met depressie besef hoeveel terapie haar skryfwerk inhou. “Dit help om my emosionele struggles uit te skryf. As ek later weer daardeur lees, kan ek sien hoe my lewe vorder, dis baie bemoedigend.
“My groeiproses was nie maklik nie. Ek is deur ’n baie donker tyd. Dit vra tyd om vrede te maak met jouself. Deesdae moedig ek mense aan om te praat oor hul depressie – dis geen skande nie – en daaroor te skryf. ’n Goeie ondersteuningstelsel is baie belangrik, ek is baie dankbaar vir my ma en my man, Ershkine.
“My gedigte is donker, maar my lewe is nie donker nie!”
Omdat Leonita besef hoeveel sy as mens groei terwyl sy dig, help sy nou aspirantskrywers om skryf-skryf deur hul emosies te werk. Sy hef ’n klein bedrag per sessie en hanteer alles konfidensieel.
“Ek help graag mense wat daarby kan baat om na ’n paar maande te sien hoe hulle gevorder het op die pad van swaarkry.
“Dit was harde werk om te kom tot hier, waar ek vrede het met wie ek is, met my skryfstyl van ‘keep it simple’, van ander in die lewe hul stukkie sonskyn gun. Is die lewe werklik ’n lied? Dikwels is die lewe eintlik ’n opera, met sy baie dramas, sy oppe en affe.
“Ek kon leer – ek moet altyd fokus op iets positiefs in my lewe. Ershkine, ons Downsindroomseun Cawan en ons bekkige graad R-seun Ardin, is waarlik daardie ligpunte in my lewe.”