Diehan wil soos Elon Musk wees

Hoërskool Robertson se topmatrikulant was verbaas toe hy die gemiddelde punt waarvoor hy gemik het, oorskry het.


Hoërskool Robertson se topmatrikulant was verbaas toe hy die gemiddelde punt waarvoor hy gemik het, oorskry het.

“Ek het aanvanklik gemik om 92% in die eindeksamen te kry, maar toe ek my punte Vrydag sien, was ek verbaas – maar ook verlig en bly,” verduidelik Diehan Drotschie, wat ’n gemiddelde punt van 94,57% in sy eindeksamen behaal het.

Verder verduidelik hy dit was vir hom verlede jaar makliker om op sy skoolwerk en leerwerk te konsentreer omdat daar nie veel ander afleidings was nie.

“As gevolg van die pandemie en al die Covid-19-regulasies het ons nie sport en ander skoolaktiwiteite gehad waaraan ons moes aandag skenk nie. Vir my het dit beteken ek kon meer tyd aan my akademie bestee. Ek was nie onder druk om aan ander aktiwiteite deel te neem of om goed soos skooldanse te reël nie.”

Hy skryf ook sy sukses toe aan sy toewyding, harde werk en die mense om hom wat hom altyd motiveer het, sowel as die feit dat hy homself ook aanhoudend motiveer het.

Drotschie se rolmodel en inspirasie is Elon Musk, die tegnologie-magnaat en onder meer stigter van SpaceX en Tesla. “Hy is my rolmodel want sy sukses is ’n bewys dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, jy kan in enige veld suksesvol wees. En soos hy, wil ek ook rekenaarwetenskap studeer. Ek vind dit ongelooflik interessant.”

Hy begin aanstaande maand met sy tersiêre opvoeding aan die Universiteit Stellenbosch waar hy sy BSc in rekenaarwetenskap gaan doen, asook data-wetenskap.

“Ek het besluit om sommer onmiddellik met studies te begin. As ek eers ’n jaar sou afvat, dink ek, sou ek dit moeilik gevind het om weer te leer en in ’n roetine te kom. Nou is ek nog gewoond daaraan.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.