So bel ’n vrou my vroeg vanoggend en ek kan dadelik die lewensmoegheid in haar stem hoor.
As iemand vir jou op ’n baie jong middeljarige ouderdom oor en oor sê “ek kan nie meer nie!” wens jy dat jy ’n feetjie met ’n goue septer is wat met net een swaai van die septer al die seer en wanhoop uit ’n pragtige vrou se stem kan wegswiep.
Ons stap die baie spesiale maand vir vroue binne: Augustus. Vrouemaand. Dit is die maand waarin alles moontlik gedoen word om vroue te bemoedig en toe te rus vir hul lewensdoel hier op aarde. Vroue moet hoor dat hulle waardevol is. Dat hulle niemand se slaansak, niemand se vloerlap is en nie nodig het om mishandeling en misbruik deur enigiemand te verdra nie.
Geen vrou behoort so min van haarself te dink om ’n posisie as tweede beste te aanvaar nie. Ek wonder altyd of mans wat hulle skuldig maak aan finansiële mishandeling teenoor sy vrou kan goed voel. Vroue moet hulself as té kosbaar sien om te soebat vir geld vir hulle en hul kinders. Dis walglik, maar waar dat vroue mans toelaat om hul as seksobjekte te gebruik om geld in die hande te kry.
Te dikwels word vroue mishandel en op getrap. Daar is die geneigdheid om vroue eenkant toe te gooi as ’n vars nuwe dingetjie op die toneel verskyn, tot die nuwigheid en lekkerte verby is en die vrou weer goed genoeg is om nader te trek. Dit moet gestop word en die enigste een wat dit kan stop is die vrou self.
Vroue is besonder uniek, kosbaar en pragtig geskape. Die gebreke wat in die man is, het God deur hierdie besonderse skepsel aangevul.
Dit is waarom die Bybel sê dat toe God sien dat die man hulp nodig het, Hy die vrou gemaak het. ’n Hulp, nie ’n bejammerenswaardige “askies-dat-ek-leef” wese nie.
Vroue moet met trots opstaan vir hul regte. Vroue hoef vir niks en niemand terug te staan nie. Hulle moet hulself uitstrek en uitreik vir hul drome.
Vroue is die sement wat hul gesinne aanmekaar hou, wat die gemeenskap aanmekaar hou, wat hul families aanmekaar hou. Dis die vrou wat die kinders hul lewenslesse leer, wat hulle leer om hul man te staan en nie te moet toelaat dat enigiemand op hul trap nie. Vroue moet hulself toerus en bemagtig om hul lewe vrugtevol te leef en te geniet.
Ek haal my hoed vandag af vir enkelma’s. Daardie sterk vroue wat deur dik en dun vierkantig op hul voete staan en sonder ’n man aan haar sy haar kinders met trots grootmaak. In sommige gevalle doen sy ’n beter job as die vrou wat ’n man aan haar sy het.
Vroue het net daardie ingeplante krag, deursettingsvermoë, moed en wysheid om ’n kind se toekoms ’n mooi een te maak. Vroue het dit net in hulle om vir hul kinders te sê, “julle het nou wel nie ’n pa nie, maar deur die genade van God kan julle en gaan julle beter doen as die wat meer bevoorreg is as julle”.
Vandag wemel die wêreld van suksesvolle manne en vroue wat deur die hand van ’n enkelma opgevoed is, wat alles moes doen vir hul kinders: van vroeg opstaan en haar kinders agterlaat om te gaan werk vir hul kos en klere tot saans laat sit en klere lap by ’n kers of lampie. Vandag kan sy met trots na hulle kyk en die vrug van haar arbeid geniet. Hulle kan weer aan die ander kant met ’n juweel van ’n ma spog wat nooit hoop vir hulle opgegee het nie.
Natuurlik is daar die vroue wat so hard deur die lewe gestamp is dat hulle sukkel om op te staan. Daar is selfs die wat net nie weer kán opstaan nie. Dit breek egter niks af aan die spesiale manier wat hulle deur die Groot Skepper aanmekaar gesit is nie.
Vandag geniet vele manne spogposisies en hoë aansien as gevolg van ’n agtermekaar vrou sonder wie hy nooit die hoogste sport sou bereik het, sy drome sou bewaarheid het of suksesvol in sy lewensdoel sou wees nie. My gebed is dat hierdie maand sal help dat daar reg sal geskied aan ons as vroue en dat ons die erkenning sal kry wat ons toekom. Dat mans die grootste geskenk wat hul kan gee, naamlik liefde aan sy kinders se ma, mildelik sal uitdeel aan die vrou wat hy gekies het as sy hulp