MALMESBURY – Anke Claassen en Chloe Lottering, albei van Laerskool Swartland, het talle nominasies uitgestof om as Let’s Play- maandwenners gekies te word.
Chloe is die wenner vir Augustus en Anke is September se wenner.
Chloe Lottering (gr. 4) is ’n veelsydige atleet en blink uit in tweekamp, swem, atletiek, netbal, landloop en gimnastiek.
Sy het vanjaar in atletiek én tweekamp tot by die SA kampioenskap deurgedring. Vir gimnastiek bring sy gereeld goue medaljes huis toe en is ook in die Wes-Kaap-gimnastiekspan opgeneem wat in Oktober aan die SA kampioenskap in Gauteng sal deelneem.
In landloop het Chloe die afgelope seisoen ses liga’s gedoen en elke keer die eerste plek behaal. Sy is in Augustus as die Boland-kampioen vir meisies o.10 gekroon.
Sy het 5 September aan die Wes-Kaap landloop-kampioenskap deelgeneem en ’n bronsmedalje huis toe geneem. Sy word in die Wes-Kaap landloopspan opgeneem en ding eersdaags mee in die SA landloop- kampioenskap in Oos-Londen.
Anke Claassen het van 22 tot 29 Augustus Suid-Afrika by die eerste Afrika skole individuele skaakkampioenskap in Gaborone in Botswana verteenwoordig. Anke het die tweede plek in die o.13-afdeling behaal en die titel van Women’s Candidate Master ontvang en ook haar SA-kleure vir skaak gekry.
Die Wêreld-skaakfederasie of FIDE (Federtion Internationale des Eches) ken verskeie prestasie-gebaseerde titels aan skaakspelers toe wat internasionaal deelneem en uitsonderlik presteer.
Die hoogste titel is dié van Grand Master wat ook die hoogste eer is in skaak.
Die titel van Grand Master is slegs een keer in die geskiedenis van skaak aan ’n Suid-Afrikaner toegeken. Om ’n titel in skaak te kry, verg baie harde werk en deursettingsvermoë.
Voor die titel toegeken word, is daar sekere kriteria waaraan voldoen moet word soos sekere prestasie-maatstawwe wat in wedstryde bereik moet word, asook ’n bepaalde prestasie in wedstryde teen ander spelers met titels.
Die titel wat toegeken word is lewenslank geldig