Ons het verlede week gepraat oor die liefdevolle hemelse Vader wat ons as Christene het. Hierdie week kyk ons na Sy karaktertrekke sodat ons Hom beter kan leer ken. Ps.103:8 “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” Hierdie skrif is sommer ’n mondvol van God se goedheid. Soms dink mense God straf hulle as dit met hulle sleg gaan, maar Sy hart is presies die teenoorgestelde. Hy wil so graag vir ons help in ons benoudheid, maar dikwels doen ons maar ons eie ding terwyl Hy passievol toekyk en wag dat ons Hom vir Sy hulp moet vra.
Ps. 34:19 “Die Here is naby hulle wat gebroke is van hart.” Hy is ook getrou en betroubaar – ons kan maar staatmaak op Hom. Num. 23:19 “God is geen man dat Hy sou lieg nie . . . sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waarmaak nie?” Dan. 9:14 sê God is regverdig in alles wat Hy doen en Hy het nie “witbroodjies” nie. Ons waarde is dieselfde voor Hom. Verder is Hy ons bewaarder want Hy beloof in Ps. 121 dat Hy ons sal bewaar van elke onheil. Soms vrees ons oor dinge en wanneer ons rustig raak en terugdink, dan besef ons maar net weer opnuut hoe Hy ons deur die jare beskerm het.
Laastens, ons Vader vergeef maklik as ons met opregte hart berou het oor ons foute. Ps. 86:5 “Want U, o Here is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.”
Seënwense