God wil Homself as ’n Vader openbaar aan die mensdom en nie net as God nie. As ons Hom sien as ’n vader dan sal ons ’n ander beeld van Hom hê. As gevolg van slegte ondervindings met ons aardse vaders kan sommige ’n totale verkeerde beeld hê van wie God is. 1 Joh.3:1 “Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word.”
Jesus het gesê in Joh.12:45 “As jy My gesien het, dan het jy die Een gesien wat My gestuur het” Jesus se gedrag op aarde gee vir ons ’n perfekte beeld van ons hemelse Vader. Hy was liefdevol, het ’n passie gehad vir mense en het net altyd goed gedoen aan die mens. So is die Vader ook, Hy gee om vir ons, Hy verstaan as ons soms moedeloos raak, Hy troos ons en bemoedig ons en staan nie gereed om ons pak te gee wanneer ons misluk nie.
Hy is ons Skepper, Verlosser, Koning en Regter maar Hy het ’n Vaderhart. Sef.3:17 “Hy verheug Hom oor jou met blydskap…Hy juig oor jou met gejubel.” Hoe kan Vader God oor my juig as ek soveel foute maak? Ja, ons kan Sy hart seer maak, maar Hy sien ons deur die bloed van Jesus. As ons die regte beeld van die Vader het, sal ons nie meer wil sondig nie. Jesus het na hierdie aarde gekom om ons terug te bring na die Vaderhart. Vader God wys daagliks Sy liefde vir ons, sodat ons op ’n plek kan kom waar ons Hom liefhet, en Hom ons Vader kan noem.
Seënwense