Die Kaapse Dokter bied altyd die beste medisyne, soos ’n volgepakte Suidoosterfeesprogram van Woensdag 27 April tot Sondag 1 Mei in die Kunstekaap in Kaapstad.
Vanjaar gaan feesgangers getref word deur ’n warrelwind met uitstekende teater, musiek, dans en boekgesprekke.
Volgens prof. Brian Figaji, voorsitter van die feesdireksie, is alles gereed om feesgangers ’n veilige en onvergeetlike ervaring te bied. Die Suidoosterfees kon die afgelope twee jaar daarin slaag om ’n verskeidenheid aktiwiteite en projekte suksesvol tydens die pandemie aan te bied.
Vir besoekers wat graag na Kaapstad wil wegbreek en gehalte-vermaak by die fees wil geniet, is spesiale afslagpakkette weer beskikbaar, wat verblyf en kaartjies na vertonings insluit. Hou gerus ’n oog op die Suidoosterfees-webwerf en sosiale media vir meer inligting.
Die organiseerders van die fees is terdeë bewus van die ekonomiese druk wat die Covid-19-pandemie meegebring het, en daarom is kaartjies vanjaar beskikbaar teen spesiale afslagtariewe, terwyl baie produksies gratis bygewoon kan word – alles binne ’n veilige, vrolike feesomgewing.
Die volgepakte feesprogram is te danke aan die borge en kunstenaars se strewe om aanhoudend kuns te skep – veral in uitdagende tye.
Vanjaar kan mense uitsien na ’n program propvol produksies uit die boonste rakke, wat wissel van operette, klassieke musiek, drama en jeugteater tot skrywersgesprekke.
Kunstenaars wat gehore aan hul voete sal hê, sluit in: Nataniël, Brendon Daniels, Dean Smith, Antoinette Kellermann, Charlton George, Frank Opperman, Lauren Dasappa en Marlo Minnaar.
Die feesprogram sal van Dinsdag 1 Maart beskikbaar wees, en mense wat die program per e-pos wil ontvang, is welkom om e-pos te stuur na suidoosterfees@media24.com.