Dié rygoed net daar om te pronk

Dit is soos iets uit een van die eerste Fast and Furious- flieks – ’n groep jong mense met pasgemaakte voertuie met ligdiode-kopligte en die beste klankstelsels.


Dit is soos iets uit een van die eerste Fast and Furious- flieks – ’n groep jong mense met pasgemaakte voertuie met ligdiode-kopligte en die beste klankstelsels.

Dié groep voertuie het Donderdag (31 Maart) op ’n winderige skemeraand een vir een hul weg na Ashton gevind vir die weeklikse Tuck it Thursdays, ’n geleentheid waar mense in die Langeberg-omgewing met hul motors kan kom spog – of dit oud, nuut, opgedoen of eenvoudig is.

Daniëll Adendorff, die organiseerder van Tuck it Thursdays, sê hy het dit begin omdat hy gesien het die gemeenskap van Robertson het ’n groot probleem met onwettige straatrenne.

Adendorff sê hy en ’n paar van sy vriende het besluit om elke Donderdag bymekaar te kom om hul passie vir hul motors te wys.

Die groep het verlede Donderdag hul vierde Tuck it Thursdays in Asthon – by die bekende Platform 62 – gehou. Adendorff sê die plan is om elke Donderdag so saamtrek in ’n ander dorp te hou.

Een van die motor-entoesiaste by die byeenkoms sê dit gaan oor meer as net om met jou voertuig te pronk.

“Ons doen dit omdat ons ’n passie en liefde vir ons motors het. Ons sien die geleentheid as ’n soort van ’n family gathering. Ek sien elke Donderdag daarna uit. Ons wil elke jong seun en meisie wys jy moet trots wees op wat jy het en dat jy pret kan hê sonder om verkeerde goed te doen. Ek is trots op my Volkswagen Jetta omdat dit eenvoudig is; dit trek die aandag van baie mense,” sê hy.


Adendorff sê die groep assosieer hulle nie met enigiets onwettigs nie.


Hy sê hy het die vorige week die Robertson-polisiekantoor besoek om te gaan verduidelik wat die groep se planne is. Hy sê die polisie was egter huiwerig om te glo die groep is net trots op hul motors en wil dit net graag by hierdie geleenthede wys.





“Ons kry gewoonlik fotograwe en ouens wat video’s maak by die geleenthede en plaas dit dan op Facebook. Wat ons ontdek het, is dat dit ná ons eerste parkoff ’n netwerk geword het. Ons het iemand gehad wat aan klankstelsels werk. Die volgende dag het hy ses nuwe klante gekry wat wou hê hy moet klankstelsels installeer,” sê Adendorff.


Hy sê mense moet sien hulle kan iets goeds doen.


Die groep beplan ook om truie te borg vir De Villiers Primêr in Robertson.


“Ons wil teruggee aan die gemeenskap. Ons gaan rugbytruie borg,” sê Adendorff.


Hy sê hy was deel van talle motorklubs in die Kaap, maar het besluit om een in Robertson te stig en het groot planne vir dié weeklikse geleentheid.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.