Amelia en Elne van der Wes,thuizen met hul hond, Thor, en die gesig van die onderneming, Big Mamma, wat swanger is.Foto: Jamey Gordon


Harde werk, uithouvermoë en geduld gekoppel aan ’n vurige passie as dryfkrag.

Dit is wat dit van ’n ma-en-dogter-paar verg om hul melkery, wat Helderbergers aan die gons het oor sy vars gehalte suiwelprodukte, met sukses te bedryf.

Amelia (50) en Elne van der Westhuizen (23) het verlede jaar hul droom met ’n geloofsprong gevolg en hul sake-inisiatief, Two Chicks and a Hound, op 1 Augustus by die Glen Graze-plaas by Ou Firgrove-weg in Somerset-Wes gestig. Dié twee melkboere van Strand het aanvanklik net botter aangebied, maar talle aanvrae vir varsmelkprodukte het vereis dat hul aanbieding nou ook verskeie suiwelprodukte soos kaas insluit.

Hul sakereis het begin nadat Elne haar B.Agric-graad in 2020 aan die Elsenburg-landboukollege verwerf en hulle ses van hul eie vrylopende beeste aangeskaf het. Só het die ma en dogter entrepreneurskap aangedurf – met ’n hond, wat hulle tydens die Covid-inperking ’n tuiste gegee het en altyd aan hul sy is. Dit is waar die kostelike naam vir hul onderneming vandaan kom.

Volgens Amelia behels ’n tipiese dag baie en harde werk deurdat die koeie twee keer per dag gevoer en gemelk word.

“Die dag begin om 07:00 elke oggend wanneer die diere nagegaan, gemelk, versorg en gevoed word. Nadat die koeie gemelk is, kry hulle ’n ruskansie. Gedurende hierdie tyd beweeg die meeste van hulle na die veld om te ontspan en te wei – alles terwyl hul kalfies versorg en die stalle skoongemaak word. Intussen word die melk in die melkery verwerk, wat pasteurisering en afroom insluit,” vertel sy.

Vir diegene wat dalk wonder – Two Chicks and a Hound se melkprodukte bevat geen geneties veranderde organismes (GMO’s) of ander onnatuurlike byvoegings nie, en alles word met die hand gebottel. Boonop is hul botter handgemaak en gebruik hulle ’n kaasmaker vir produkte uit die boonste gestoeltes.

Plaaslike inwoners wie se lojaliteit as kliënte opgebou is, word dan, tussen 13:00 en 14:00, die geleentheid gebied om produkte wat vooraf bestel is, af te haal. Hierna volg aflewerings, wat gratis is vir dié met bestellings van meer as R100, en aankope vir sakegebruik. Kort voor lank is dit aand en word die koeie die tweede keer gemelk, wat slegs ’n herhaling van die oggend-roetine is.

Dié twee vroue, wat daarna uitsien om altyd produkte van ’n hoë standaard te lewer en sterker te staan as sakevroue met ’n hart vir mense en diere, nooi inwoners uit om hulle op die plaas te besoek

“So kan besoekers die beeste ontmoet, kalfies vertroetel en sien hoe die verskeie prosesse binne die melkery gehandhaaf word,” het sy aangevoer.

Amelia het ook die volgende boodskap aan die gemeenskap uitgestuur: “Dankie vir diegene wat ons ondersteun; vir jul geduld, vriendelikheid en gewaardeerde terugvoering wat ons help om ons produkte te verbeter.”. Lesers wat nog inligting benodig of produkte wil bestel, kan e-pos stuur na twochicksandahound@gmail.com of bel 083 495 0910. Alternatief, besoek hul Facebook-blad.

You need to be Logged In to leave a comment.