Die getal Graad 1-leerders in die Wes-Kaap wat teen die afgelope Vrydag nog nie geweet het waar hulle vanjaar hul skoolloopbaan gaan begin nie, het vandeesweek op 575 gestaan.
Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van onderwys, is dié syfer aansienlik laer as in Desember 2020 toe 4 624 Graad 1-leerders steeds nie ’n plek in ’n skool vir die nuwe jaar (2021) gehad het nie.
Altesaam 3 014 Graad 8-leerders oor die hele Wes-Kaap sit ook nog met hul hande in die hare omdat plek vir die 2022-skooljaar nie beskikbaar is nie. Dié syfers het egter ook ’n afname getoon teenoor 8 765 in Desember 2020.
Die departement sê hy is tevrede met die afname van syfers in terme van leerders wat nog op ’n plek wag, maar word steeds daagliks met nuwe aansoeke gebombardeer nadat ouers nie hul aansoeke binne die voorgeskrewe tydperk ingedien het nie. Meer as 32 000 laat aansoeke is ontvang, wat beplanning in die departement bemoeilik.
Die toename in leerder-getalle, asook ouers wat laat of nie aansoek doen nie, bly ’n groot uitdaging, voeg sy by.
Die WKOD doen ’n beroep op ouers om hul distrikskantoor te bel indien hulle nog nie vir 2022 aansoek gedoen het nie. ’n Spesiale versoek gaan ook uit na ouers wat nie bereikbaar is wanneer ’n amptelike aanbod met ’n plek vir hul kind beskikbaar word nie. “Stel so gou as moontlik die distrikskantoor in kennis indien ouers se kontakbesonderhede verander het,” pleit sy.
Die departement doen jaarliks ’n opname op die 10de dag nadat die skole geopen het, wat hulle in staat stel om vir leerders ’n plek te vind. “Baie keer het leerders wat by ’n sekere skool geregistreer was, nie opgedaag nie. Só word die leerder gederegistreer, wat plek maak vir ’n ander leerder.”
Volgens Hammond werk die departement volstoom om seker te maak dat alle leerders ’n plek kry en om ouers by te staan, en die departement spreek sy dankbaarheid teenoor angstige, maar geduldige ouers uit.
Hammond sê hoewel die departement nie data per dorp bekend kan maak nie, behoort hy ná die 10de ’n beter idee te hê oor hoeveel leerders in die Swartland nog geplaas moet word.