Deernis met almal gelyk

Die naam dr. Imtiaz Sooliman – die gesig van die organisasie Gift of the Givers – duik die afgelope jare oral op.


Die naam dr. Imtiaz Sooliman – die gesig van die organisasie Gift of the Givers – duik die afgelope jare oral op.

As daar nood is in ’n oorlog, hongersnood, die droogte en meer onlangs die verwoestende oorstromings in KwaZulu Natal, is hy daar – ’n filantroop in murg en been, wat aan die noodkreet van alle Suid-Afrikaners in tye van verlies en swaarkry gehoor gee, en ook in die res van die wêreld.

Gift of the Givers help ook in klein plaaslike dorpe – dikwels stil-stil en agter die skerms. So het hulle enkele maande gelede in Touwsrivier ingespring om noodsaaklike mediese dienste daar te lewer. Hulle het ook skryfbehoeftes by plaaslike skole uitgedeel.

Toe die Langeberg- en Breedevallei-streek in 2018 ’n geweldige waterkrisis beleef het, het hulle water gelewer – onder meer by Pionierskool, De la Batskool, in Avianpark en in Rawsonville.

Hulle was ook ná die oorstromings in Bonnievale in Mei 2021 daar om te help.

Tydens die Covid-inperking het hulle in ’n stadium 100 000 kospakkies uitgedeel.

Die Gift of the Givers-stigting bestaan reeds die afgelope drie dekades. Dié organisasie sonder winsbejag het onlangs hulpbronne en verligting in KwaZulu Natal gebied toe die provinsie weens erge oorstromings in April verlies en skade gely het.

Maar wie is Sooliman?

Hy is in Potchefstroom gebore en het in 1978 na Durban verhuis om sy skoolloopbaan by die Sastri College te voltooi. In 1984 het hy as ’n mediese dokter by die Natal Medical School gekwalifiseer.

Hy het sy gemeenskapdiens by die King Edward-hospitaal voltooi, waarna hy na Pietermaritzburg verhuis het om sy private praktyk in 1986 te stig.

Sy lewenspad het egter ’n paar jaar later geheel en al van koers verander.

Maatskaplike werk was sedert die begin van sy loopbaan hoog op sy prioriteitslys toe hy by die Islamitiese Mediese Assosiasie (IMASA) betrokke geraak het.

Sooliman het selfs bystand gelewer gedurende die Golfoorlog, sowel as die katastrofiese sikloon wat Bangladesj in 1991 getref het, om maar net ’n paar te noem.

Sy toekomsplanne het verander toe hy die geestelike kant van Islam in Turkye ontdek het. Dié kosbare les, wat hy vandag nog daagliks toepas, behels liefde, deernis en menswaardigheid wat enige ander wet in die Islamitiese geloof oorheers.

Gift of the Givers is in Augustus 1992 gestig nadat Sooliman die mediese veld as private praktisyn verlaat het.

Tog het dié agtergrond waardevolle kennis en krag in sy humanitêre uitreikings gebied, waar hy liefde, deernis en menswaardigheid toepas om ’n daadwerklike impak te maak en bystand te lewer aan mense in ongeveer 22 lande buiten Suid-Afrika, ongeag hul kultuur, taal, ras of geloofsoortuigings.

Hoewel hy daadwerklike verligting in tye van nood en dood aan hordes mense oor die wêreld heen verleen, pas hy nie dié filosofie op die individu toe nie.

In ’n onderhoud wat die Daily Maverickin 2020 aan die begin van die Covid-pandemie met Sooliman gevoer het, sê hy eerder as om homself van mense te distansieer, doen hy dit eerder op ’n emosionele vlak.

“Ek sal my personeel raadpleeg om nooit aan een mens geheg te raak nie. Jy kan jammer voel vir die mense van Sirië, of die kinders van Sirië. Maar moenie jammer voel vir die individu nie. Moenie jammer voel vir Ishmael, Ellen, Johnny of Dumisani, nie. Die oomblik wat jy dit doen, is jy dood.”

Hy het verder vertel hoe sy vrou dink hy is ’n alien.

“My vrou, Zorha, glo nie dat ek van dié wêreld kom nie . . . ek’s té koud,” spot hy.

“Die doel is om deernis oor die algemeen te hê, maar nie op ’n individuele vlak nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.