De Wet eien rol in ‘Vlugtig’

Die jong aktrise Jane de Wet, ’n boorling van Somerset-Wes, is tans op die kassie in die splinternuwe fliek Vlugtig, wat Vrydag 25 Maart op DStv Box Office uitgereik is, te sien.


Die jong aktrise Jane de Wet, ’n boorling van Somerset-Wes, is tans op die kassie in die splinternuwe fliek Vlugtig, wat Vrydag 25 Maart op DStv Box Office uitgereik is, te sien.

Die fliek, wat in Limpopo en Magoebaskloof verfilm is, is gegrond op die kortfliek met dieselfde titel, wat in 2017 by die kykNET-Silwerskermfees bekendgestel is. Dit is deur Ernst van Wyk geskryf en deur Marinus Gubitz geregisseer, met Arno Greeff, Van Wyk en De Wet in die hoofrolle.

Kameerolle word deur Tobie Cronjé, Simoné Pretorius, Altus Theart, Annie Malan, Schalk Bezuidenhout, Gerald Steyn en Hannes Brümmer vertolk.

Vlugtig vertel die storie van die aspirant akteur Simon Berg (Greeff), wie se lewe ’n onverwagse wending neem wanneer hy ’n uitnodiging ontvang om saam met sy rolmodel, die befaamde teaterregisseur Andreas Vog (Van Wyk), aan laasgenoemde se nuwe Rooikappie-toneelstuk te repeteer.

’n Reeks gebeure lei daartoe dat Simon onder die sadistiese Andreas se onortodokse metodes ly, met slegs sy medester, Chantel Opperman (De Wet), wat hom bemoedig om deur te druk.

Die talentvolle De Wet, ’n oud-leerder van die Laerskool De Hoop en Hoërskool Parel Vallei, was byna onmiddellik aangetrokke tot die rol van Chantal, weens die ouderdom en beroep van die karakter. “Dit klink dalk louwarm, maar dis die eerste keer dat ek ’n rol aangebied word waar my karakter my ouderdom is; ek het in ander produksies ’n skoolkind gespeel,” het De Wet vertel.

“Natuurlik is sy ook ’n aktrise, en ek het dit dus geniet om ooreenstemmings tussen my en Chantal te vind. Die feit dat ons net drie hoofspelers is, was ook ’n aantrekking, want so kon ons mekaar beter leer ken.”

Ter voorbereiding vir die rol het die 26-jarige die doel van haar karakter uitgepluis en dieper in haar psige probeer delf, veral om haar grootse uitdaging – om Chantal nie te oordeel nie – te oorkom. “Ons het so baie in gemeen: ons is albei ’n aktrise, ons is ambisieus en passievol oor wat ons doen en ons is goed met mense en om mense te lees,” sê De Wet. “My morele kompas oorheers meer as dié van Chantal, en dit het my ’n rukkie geneem om haar besluite te verstaan en haar nie te oordeel nie.”

De Wet is nie onbekend vir Suid-Afrikaners nie, met veral haar rolle in The Girl from St. Agnes, Spoorloos (Steynhof), Griekwastad, Moffie, Still Breathing, Rage, Parable, Mis en Trackers, wat haar ’n ou bekende op die silwerskerm en kassie gemaak het.

Haar vertolking van Marthella Steenkamp, die suster van die plaasmoordenaar Don Steenkamp, in die bekroonde Griekwastad, het haar ook die prys as belowende jong talent in die 2019 Silwerskermfees en ’n Safta-benoeming besorg.

De Wet, ook ’n professionele danser, se passie en toewyding tot die uitvoerende kunste het op sewejarige ouderdom as leerder aan De Hoop in die rol van Little Fairy in die skool se revue begin. In 2017, met 15 jaar van opleiding in dans agter haar naam, talle teater-produksies onder die knie en ’n BCom-graad in bestuurswetenskap, het sy ’n loopbaan as akteur nagejaag. Vandag spog sy met talle rolle in plaaslike en internasionale produksies, insluitend die BBC-fliek Watch and Slumber Party Massacre, en twee Amerikaanse produksies vir later vanjaar.

Sy hoop plaaslike inwoners sal moeite doen om Vlugtig te kyk, veral omdat sy glo dit sal mense met ’n subjektiewe boodskap laat. “Die oorheersende boodskap is dat elke mens se ervaring afhang van jou perspektief – hoe jy dinge sien en die lewe ervaar. Al bevind twee mense hulle in die dieselfde situasie met dieselfde omstandighede, is hul ervaring daarvan anders, omdat hulle verskillende perspektiewe en ingesteldhede het.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.