De Hoop-begunstigdes trek dalk gou in

Die eerste begunstigdes van die De Hoop-behuisingsprojek sal eersdaags hul intrek kan neem. Die eerste huise in die projek is nou amper klaar en die goedgekeurde begunstigdes sal hul huissleutels binne die volgende paar weke ontvang.


Die eerste begunstigdes van die De Hoop-behuisingsprojek sal eersdaags hul intrek kan neem. Die eerste huise in die projek is nou amper klaar en die goedgekeurde begunstigdes sal hul huissleutels binne die volgende paar weke ontvang.

Die kontrakteurs het onlangs begin om die huise te verf en Harold Cleophas, die uitvoerende burgemeester, het die geleentheid benut om handjie by te sit en gehelp om van die heel eerste huise te verf.

Bouwerk aan die eerste 200 huise in die projek het in Oktober 2022 begin.

Die munisipaliteit het in ’n verklaring gesê die nood vir behuising in die Swartland is, soos in die res van die land, enorm en strek oor al 11 sy dorpe. Meer as 14 500 name is tans op sy behuisingswaglys. Volgens die munisipaliteit is dit eenvoudig “onmoontlik om aan al die behoeftes te voorsien”, maar die vordering wat by De Hoop gemaak is, “sal verligting bring aan inwoners wat al jare wag”.

“Behuising bly ’n moeilike uitdaging vir munisipaliteite om te bestuur. Dit is nie ’n munisipale oogmerk nie, maar berus by die nasionale en provinsiale regering. Munisipaliteite is slegs die uitvoerende agente. Met ander woorde, die begroting en goedkeurings vir behuisingsprojekte word deur die nasionale en provinsiale regerings hanteer en as munisipaliteit moet ons daardie besluite deurvoer. As plaaslike owerheid dra ons egter steeds ons inwoners se belange op die hart en is ons deurlopend in gesprek met die besluitmakers om so veel as moontlik behuisingsgeleenthede te ontgin en te laat realiseer,” lui die verklaring.

Die volgende projek in sy behuisingspyplyn is ’n gesubsidieerde behuisingsprojek in Darling. Die projek fokus op die voorsiening van huise vir inwoners wat in die sogenaamde GAP-mark val. Dit is inwoners wat te veel verdien om ’n ten volle gesubsidieerde huis te ontvang, maar vir gedeeltelike finansiering en subsidie te kwalifiseer. Die munisipaliteit wag egter nog om die finale goedkeuring by die departement van menslike nedersettings te kry voordat die projek kan voortgaan.

“Ons hoop die siviele ingenieursdienste sal teen Junie voltooi word sodat bouwerk reeds in die laaste deel van 2022 sal kan begin. Die munisipaliteit begin binnekort met inligtingsessies oor presies hoe die finansiering gekoppelde subsidieprogram (FLISP) gaan werk en wat dié wat belangstel, moet doen om vir die projek in aanmerking te kom.”

Die munisipaliteit is ook besig met grootmaatdienstebeplanning vir toekomstige behuisingsgeleenthede in Moorreesburg met inagneming van beskikbare geld van die nasionale en provinsiale departement van behuising.”

Cleophas het op sy beurt gesê: “Behuising is ’n basiese mensereg. As deel van Menseregte-maand is ons baie bly dat die eerste begunstigdes hierdie maand hul intrek by De Hoop sal kan neem. Ons is egter deeglik daarvan bewus dat ’n ernstige tekort steeds bestaan.

“Die provinsiale departement van menslike nedersettings het op verskeie geleenthede beklemtoon dat dit onmoontlik is om aan elke behoeftige behuising te bied.

“As munisipaliteit fokus ons dus nie net op die bou van huise nie, maar ook op gedienste erwe met inagneming van die kriteria en beskikbare geld van die nasionale en provinsiale departemente. Ons werk nou saam met alle vlakke van regering om so veel as moontlik geleenthede vir ons inwoners te skep.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.