Darling Vleismark wen

Darling Vleismark, ’n bekende slaghuis in Darling, is die wenner van die gesogte Cleaver-prys. Dié slaghuis, wat boonop sy 40ste bestaansjaar vier, het goud in die afdeling vir slaghuise met tot drie betaalpunte in die Wes-Kaap verower.


Darling Vleismark, ’n bekende slaghuis in Darling, is die wenner van die gesogte Cleaver-prys. Dié slaghuis, wat boonop sy 40ste bestaansjaar vier, het goud in die afdeling vir slaghuise met tot drie betaalpunte in die Wes-Kaap verower.

Darling Vleismark is op 24 Maart vanjaar as een van die 50 beste slaghuise in die land benoem.

Parker Kriel (84), die baanbreker agter die onderneming, het dié slaghuis se deure in 1982 geopen. Hy beskou die geleentheid as ’n groot eer. Sy seuns Stephen en Kevin Kriel is vandag aan die stuur van sake. Die Kriels is dit eens dat harde werk, gehalteprodukte, eerlikheid en goeie klantediens die resep vir sukses is.

Die Cleaver-prys, ’n inisiatief deur die Rooivleisbedryfsforum, vereer jaarliks topslaghuise landwyd gegrond op higiëne, gehalte, klantediens en waarde vir geld. Dié proses begin by verbruikers self, wat aanlyn vir hul gunstelingslaghuis stem. Sodra meer as 100 stemme ontvang is, word die slaghuise individueel en op ’n geheime grondslag beoordeel teen ’n lys waarop 212 punte verskyn waaraan so slaghuis moet voldoen. Darling Vleismark het ’n allemintige 85% losgeslaan, wat hom uiteindelik goud laat verower het.

Die ander slaghuis in die Wes-Kaap wat in dieselfde afdeling uitgeblink het, is Hartenbos Slaghuis, wat die platinum-prys gewen het.

Dewald Olivier, die uitvoerende hoof van The South African Feedlot Association (Safa), sê hoewel slaghuise hard deur die pandemie getref is, is dié Cleaver-pryse ’n bewys dat Suid-Afrikaanse slaghuise steeds hulle vleis werd is.

Darling Vleismark, wat deesdae aan onder meer oor die 120 Spar-winkels verskaf, is nie net sommer enige slaghuis nie. Parker vertel met trots dat die Kriel-familie al vyf geslagte “slagters” opgelewer het. Dié slaghuis, wat daagliks sy deure vir kliënte oopmaak, pronk met ’n ryk geskiedenis van slagters wat al die pad uit Umtata kom. James Kriel, Stephen en Kevin se oupa, kom uit ’n slagtersfamilie. Hý was een van agt broers en twee susters wat elkeen in die slaghuisbedryf geëindig het. Parker het uiteindelik ook in sy pa, James, én oupa Alexander se voetspore gevolg en ’n slaghuis in 1974 op Bonnievale geopen.

Hy en sy vrou, Denise, het ná 13 jaar besluit om te verkoop. Sy suster wat toe reeds in Darling gewoon het, het haar broer gebel en van die slaghuis wat te koop is, vertel. Parker wou aanvanklik niks weet nie. “Ek was klaar met slaghuise,” vertel hy laggend. Ná ’n besoek aan Darling het hy tog dié slaghuis gekoop en boonop ook sommer die erf waarop dit geleë is. “Dit was ek, my vrou, ’n blokman en ’n arbeider,” vertel hy. Parker onthou nog hoe hy sy vrou gevra het wat hom begewe het om die plek te koop. Vandag is hy ewig dankbaar en skryf hy hul jare lange bestaan aan God se genade toe.

Stephen, wat ná skool as gesondheidsinspekteur studeer het, het van jongs af in die slaghuise gehelp. Hy het later die slaghuis in Darling oorgeneem en die afgelope 31 jaar nie net die gebou self uitgebrei nie, maar ook die onderneming. Parker vertel verder van hul spoggerige fabriek waar alles gebeur. Nóg ’n slaghuis is sowat 15 jaar gelede in Darling-Noord geopen en is ’n behoorlike aanwins vir die bestaande onderneming.

Kevin, wat maar vyf jaar oud was toe hulle in Darling aangekom het, was ’n regte “slaghuisbaba” wat destyds klante in Bonnievale uit sy wiegstoeltjie op die toonbank vermaak het. Hy het die wêreld van rekenaars in Desember 1999 agtergelaat en by die Darling Vleismark aangesluit.

Vandag werk meer as 30 personeellede daar. Stephen se vrou, Susan, is ook betrokke en in beheer van die administratiewe en finansiële kant van die onderneming. Parker is op sy beurt elke Vrydag en Saterdag op sy pos om klante te bedien.

Darling Vleismark is baie dankbaar teenoor sy lojale kliënte. Parker vertel ook hoe magtig mondelinge bemarking nog in hul bedryf is as klante die woord versprei. “Daar is nooit nie nuwe gesigte in die slaghuis nie. Mense kom van oral om hier te koop.”

Planne om verder uit te brei, is nie nou ter sprake nie, maar Kevin sê hulle kan dit nie bekostig om te stagneer nie, en hou by wat klante wil hê en die verandering in behoeftes.

Parker is trots op sy seuns en op waar die slaghuis vandag is. ’n Besoek aan die bekroonde slaghuis, ’n baken van Darling op sigself, is gewis die moeite werd.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.