Darling looi Malmesbury

Die Swartland-krieketspanne Darling en Malmesbury het Saterdag goeie oorwinnings teen die krieketklubs Essex van Clanwilliam en Wolseley behaal.


Die Swartland-krieketspanne Darling en Malmesbury het Saterdag goeie oorwinnings teen die krieketklubs Essex van Clanwilliam en Wolseley behaal.

Dié twee Swartlandse krieketspanne pronk nie net nie, maar Darling beklee ook die eerste posisie op die punteleer.

Malmesbury is sesde.

Darling het na Clanwilliam gereis en Essex in sy agterplaas aangedurf. Essex het die eerste kragmeting op die Gabriel Pharoah-sportterrein gewen, maar hierdie keer het Darling die bordjies verhang en die tuisspan oortuigend met drie paaltjies verslaan.

Nadat die kaptein, Jevon Cloete, die loot gewen het, het hy nie gehuiwer om Essex in te stuur om eerste te kolf nie. Ná ’n goeie boulvertoning het hulle Essex tot 160/9 beperk en daarna die teiken van 161 in 46.3 boulbeurte vir die verlies van sewe paaltjies behaal.

Die kaptein, Jevon Cloete, het van voor gelei en goed geboul. Hy het in sy 10 boulbeurte drie paaltjies vir 15 lopies laat kantel (10-3-15-3) en ’n ekonomiese lopietempo van 1.5 lopies per boulbeurt gehandhaaf.

AB Henkelman het ’n onoorwonne beurt van 86* nie uit nie aangeteken en Darling op koers gehou vir ’n oorwinning met goeie ondersteuning van Krisnan Oosthuizen (17), Sergio Thomas (14) en Fernin Hoogbaard (13). Hy het ook die wenlopies in die 46ste boulbeurt gemoker. Sy beurt van 86* het nege viere en twee reusagtige sesse van 143 balle ingesluit.

Die Darling KK is nou met dié oorwinning 10 punte voor Bergrivier en met ses wedstryde oor is hulle in ’n gunstige posisie om promosie na Boland Premierliga te kry.

Malmesbury se koringboere het op sy tuisveld sy tweede agtereenvolgende oorwinning oor Wolseley behaal toe hy met 36 lopies gewen het. Met dié oorwinning het hy opgeskuif na die sesde plek met 25 punte.

Beide spanne het nou ’n blaaskans van twee weke en speel eers op 1 Maart teen Hopefield en Bergrivier.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.