Die Darling-rugby-7’s-toernooi het Saterdag sy 21ste verjaarsdag gevier en talle verrassings opgelewer.
Saldanha (die verdedigende kampioen), Belhar (die kampioen van 2018 en 2019), en die gasheer (Darling) het reeds in die top-16-uitspeelronde uitgeval. Saldanha, wat weer as gunsteling opgedaag het, is reeds vroegoggend geskud toe Young Hearts van Pella hom 17-7 geklop het.
Darling se melkboere het ook vinnig uit die blokke gespring en Blue Stars 21-0 geklop. Die gasheer het sy tweede oorwinning behaal toe Mamre se naasbestes die knie met 0-21 moes buig, waardeur Darling vir die top-16 kwalifiseer het.
Saldanha se vordering was weens hul teenstaanders wat nie opgedaag het nie.
Langebaan A het ook goed begin en Koringberg 28-12 geklop terwyl Velddrif 7-33 teen Hamlets van Mamre vasgeval het. Velddrif en Langebaan het in hul tweede wedstryde gelykop uitslae behaal, wat genoeg was om die top 16 te haal.
Young Hearts het egter die span van Velddrif ’n sewes-les geleer en die stryd maklik 40-5 gewen.
Langebaan het die byenes oopgekrap en die angel losgelaat toe hy die gasheer in ’n opwindende riller 19-5 geklop het.
Saldanha het Hamlets in sy top-16-wedstryd gepak. Die wedstryd, wat baie gelyk was, is egter op ’n skinkbord aan Hamlets besorg toe die kampioen in die doodsnikke van die wedstryd onder die pale gaan druk het, met die telling toe 14-12 in Hamlets se guns, maar met die maklike doelskop wat wag, het oorgretigheid die span die wedstryd gekos. Die doelskop was mis en Saldanha is uit die beker-kompetisie geskop.
Met slegs Langebaan van die Weskus-streek in die bekerkompetisie oor, het die gedugte Hands and Hearts (kampioen) op Langebaan gewag en gewys hy het sy oog op die titel en Langebaan het die knie in dié wedstryd gebuig (38-0).
Young Hearts het ook sy een hand op die trofee gehad toe die span van Ruben Abels die gedugte St. Georges 17-12 in die bekerhalfeindstryd geklop het.
Hamlets het in die ander halfeindstryd teen Hands and Hearts te staan gekom, maar die span van Gavin Passens het nie al die antwoorde op Hands and Hearts se vrae gehad nie.
Dit het die tafel vir ’n goeie eindstryd tussen Young Hearts en Hands and Hearts gedek. Hands het egter eerste die hand opgesteek en daar gehou, die span van die grafkelder 26-5 geklop en is as kampioen gekroon.
Mamre het die plaat-eindstryd teen Saldanha 19-5 gewen terwyl Darling se naasbestes die bowl-kampioen is.