Damprook (vaping) en die rook van sigarette is twee gewoontes wat die afgelope paar jaar al meer gewild geword het – veral onder jonges – en talle skole sit tans met ’n geweldige probleem wat dit betref.
Skoolhoofde in die Langeberg en Breedevallei sit met die hande in die hare en tree gereeld op teen leerders wat hierdie aktiwiteit beoefen.
Hulle meen egter gevalle waar leerders met sigarette betrap word, raak al minder, maar die gebruik van damprokers raak al meer prominent.
“ Een of meer leerders word minstens een keer per week met ’n damproker by die skool betrap. Die tendens is dat hierdie toestelle nou by meeste winkels vryelik beskikbaar is en teen ’n relatiewe lae prys verkoop word. Leerders deel dit ook onder mekaar, en dit is ’n geweldige probleem,” meen een van die skoolhoofde van ’n skool in Bonnievale.
Hy vertel skole het ’n aksieplan wat teen rook en damprook geïmplementeer gaan word, maar hy wil op hierdie tydstip nie veel verder uitbrei nie.
Nog ’n onderwyser van ’n bekende skool in Worcester, wat op voorwaarde van anonimiteit met Gazette praat, sê sy betrap kinders gereeld wat dampstokkies en damprokers in die klaskamer gebruik.
“Hulle beskou dit as ’n groot grap en steek daardie masjientjie so vinnig weg as jy dit agterkom. Omdat dit ook nie ’n pertinente reuk soos sigarette het nie, sien ’n mens soms net die rook in die lug hang. Dit maak dit moeilik om die oorsprong presies te bepaal, maar die kinders lag ’n mens uit. Dit hou gevare en – veral omdat asmalyers ook in die klaskamer is.”
Kenners meen hoewel dit dalk na onskadelike alternatiewe vir tradisionele rook lyk, gaan dit hand aan hand met ’n magdom gevaarlike gesondheidsrisiko’s, wat nie geïgnoreer kan word nie.
“Een van die grootste gevare van damprook en rook is die impak daarvan op die asemhalingstelsel. Die chemikalieë in e-sigarette sowel as dié in tradisionele sigarette kan die longe irriteer en beskadig, wat tot ernstige respiratoriese probleme soos brongitis, longontsteking en kroniese obstruktiewe longsiekte (KOPD) kan lei. Daarbenewens kan die inaseming van tweedehandse damprook en sigaretrook ook respiratoriese probleme vir nie-rokers wat daaraan blootgestel word, veroorsaak,” meen Burger Ashwin, ’n navorser by die kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Ashwin is tans besig met ’n meestersgraad hieroor aan die Universiteit Stellenbosch.
Hy verduidelik nog ’n groot bekommernis is die invloed van hierdie gewoontes op rokers se kardiovaskulêre gesondheid. “Rook en damprook verhoog die risiko van hartsiektes, beroerte en ander kardiovaskulêre probleme, en kan tot ’n reeks negatiewe gesondheidsprobleme lei, insluitend ’n hartaanval, angina en bloedklonte. Benewens asemhalings- en kardiovaskulêre probleme, is rook en damprook ook aan ’n aantal ander ernstige gesondheidskwessies gekoppel – ’n groter risiko vir kanker, insluitend longkanker, blaaskanker en ander vorms van kanker. Die chemikalieë in beide tradisionele en e-sigarette is ook gekoppel aan ’n reeks neurologiese probleme, wqaaronder depressie, angs en verslawing,” voeg hy by.
Ashwin en sy mede-studente werk nou saam met dokters wat dieselfde ondersoek, veral onder die jeug.
“Nog ’n gevaarlike aspek van rook en damprook is die potensiële invloed daarvan op die jeug en jong volwassenes. Adolessente en jong volwassenes wat e-sigarette of sigarette gebruik, is meer geneig om nikotienverslawing te ervaar en is meer geneig om tradisionele sigarette later in hul lewe te begin rook. Boonop kan die gebruik van nikotien en ander skadelike chemikalieë deur jongmense hul ontwikkelende breine benadeel, wat hul geheue, aandag en ander kognitiewe funksies beïnvloed.”
Ashwin sê as jy ’n roker of damproker is, is dit belangrik om stappe te doen om op te hou en jou gesondheid te beskerm. Dit kan hulpbronne insluit soos berading, nikotienvervangingsterapie en ondersteuningsgroepe, of alternatiewe vorms van stresverligting soos oefening, bewustheid en gesonde eetgewoontes.