Harde werk, ondersteuning en self-motivering is maar net van die faktore wat Annemie Hambridge (18) tot hoog aan die punteleer laat klim het, of dalk was dit die vars seelug. Hoe dit ook al sy, vandag spog dié voormalige matrikulant van 2021 met sewe onderskeidings en ’n A-gemiddelde van 87,67%.

Annemie en haar gesin het in haar Graad 11-jaar na Yzerfontein verhuis en deel van die Swartland-gemeenskap geword.

Haar brownies (beskuitjiefudge) is deedae baie gewild onder inwoners.

Sy en haar ouers het daagliks soggens vroeg na Durbanville vertrek om haar by Hoërskool Stellenberg af te laai, waar sy matrikuleer het. Haar ouers ry nou sonder haar steeds werk toe nadat sy onlangs by haar nuwe woning in Stellenbosch ingetrek het, waar sy vanjaar BRek gaan studeer.

Annemie, onder die top-25 van haar skool, sê sy het gehoop sy haal sewe onderskeidings, maar het getwyfel oor haar wiskundepunt. Vandag is sy baie dankbaar.

Sy skryf die goeie punte gewis aan harde werk toe, maar ook aan die ondersteuning van haar familie en vriende. Vir haar was dit moeilik om ná die inperkings weens die Covid-19-pandemie motivering te vind. Sy het die virus twee keer in haar matriekjaar opgedoen en was genoodsaak om af te sonder. Sy sê dit het baie selfdissipline geverg om op haar eie hard te werk. “Maar as jy ’n doelwit vir jouself stel en dit graag wil bereik, is enigiets moontlik,” vertel sy met trots.

Sy sê sy het geweet waarvoor sy werk en wou toelating vir haar kursus by die Universiteit Stellenbosch kry. Haar volgende doelwit is om ’n CA te word en sy kan dalk net later haar brownie-bakkery dáár “vir ’n ekstra sakgeldjie” voortsit.

Annemie wil graag aan vanjaar se matrieks uitlig dat harde werk regtig lonend is. Sy sê jou geestesgesondheid is baie belangrik met al die uitdagings wat vandag bring.

“Vat gereeld ’n ruskansie en haal net asem om seker te maak dat die stres jou nie heeltemal oorweldig nie. Kry ’n goeie ondersteuningstelsel soos jou vriende en familie. Moenie bang wees om hulp te vra nie. Soms is dit ook goed om laat in die aand in jou kamer net te dans om ontslae te raak van die stres,” moedig sy aan.

Vir haar het gereelde stapsessies langs die see op Yzerfontein gewerk, asook fietsry. “Daardie balans in die lewe is belangrik.”

You need to be Logged In to leave a comment.