Die DA sê ondanks die hoë koste waarteen lyfkameras vir enkele van die land se polisiebeamptes van April vanjaar af gekoop sal word, beskou die party dit as “waarde vir geld” om die polisie sowel as die publiek tydens interaksies te beskerm.
Senzo Mchunu, die minister van polisie, het dit verlede week op ’n parlementêre vraag-en-antwoord-sessie aangekondig en gesê die lyfkameras sal elk sowat R28 818 kos en dat 100 kameras jaarliks oor die volgende vyf jaar aangewend sal word.
Dit kom neer op R2 881 800 per jaar en ’n totale koste van R14 409 000 vir die vyf jaar.
Mzamo Billy, DA-LP en lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor veiligheid en justisie, het in ’n verklaring gesê die koste is rede tot kommer, maar dat dit waarde vir geld sal wees.
“Die hele proses moet net deursigtig en doeltreffend in werking gestel word.
“Hoewel dit ’n positiewe stap is, is 100 kameras te min, in ag genome dat daar 179 000 polisiebeamptes is.
“Ons glo dat die gebruik van lyfkameras noodsaaklik is om deursigtigheid, verantwoordbaarheid en die publiek se vertroue in die polisie te bevorder.
“Dit is ook belangrik omdat mense dan nie onnodig klagtes teen polisiebeamptes kan indien nie,” sê Billy.
Thulani Ngwenya, ’n woordvoerder vir die polisievakbond Popcru, het volgens IOL die kameras verwelkom.
“As Popcru is ons ten gunste van enige vorm van tegnologiese vooruitgang wat die polisie in hul werk sal bemagtig. Hierdie lyfkameras sal help om bewyse te dokumenteer wat uiteindelik vrugbare resultate sal lewer wanneer sodanige bewyse in die hof voorgelê moet word.”
Die Kaapstad-metro was in Augustus 2023 die eerste metro in Suid-Afrika wat sy wetstoepassers met lyfkameras toegerus het.
Dit was deel van die metro se R860-miljoen-begroting vir veiligheidstegnologie vir die daaropvolgende drie jaar. Minstens 800 wetstoepassingsbeamptes en 290 voertuie is in die 2023-’24-boekjaar in Kaapstad met kameras toegerus.