Cornal Hendricks is Woensdag (14) op 38-jarige-ouderdom aan 'n hartaanval oorlede.
Cornal Hendricks is Woensdag (14) op 38-jarige-ouderdom aan ‘n hartaanval oorlede.

“Cornal sou wou hê dat die komende naweek se rugbywedstryde soos beplan moes voortgaan.”

Só het die bestuur van die Boland-rugbyunie (BRU) Maandag op ‘n perskonferensie gesê waartydens onthul is dat Cornal Hendricks, die ontslape oud-Springbok-vleuel, Sondag (25 Mei) om 12:00 vanuit die NG Moedergemeente in Wellington ter ruste gelê sal word.

Die unie het bevestig dat komende Saterdag se Boland-klubrugby-wedstryde dus soos beplan sal voortgaan.

Die BRU het ‘n beroep op die rugbygemeenskap gedoen om ‘n roudiens by te woon wat vir Donderdag (22 Mei) om 12:00 by die Boland-stadion in Wellington beplan word.

Daar vind dan ook Vrydagaand (23 Mei) ‘n roudiens by die CRC Paarl-gemeente in Jan van Riebeeckweg om 18:00 plaas. Slegs 600 mense sal weens die saal se kapasiteit by hierdie diens ingelaat word.

Volgens Bennie van Rooy, president van die BRU, het die unie Maandag ‘n besoek aan Hendricks se familie afgelê.

“Dit was vir my ‘n baie hartseer oomblik. Ek het nie geweet Cornal het nog so ‘n klein kindjie nie.

“Hy het ons almal se harte gesteel met die gehalte rugby wat hy gespeel het. Dit gaan ons bitter lank vat ons gewoond te raak aan die idee dat hy nie meer met ons is nie,” het Van Rooy op die perskonferensie gesê.

Volgens Van Rooy het verteenwoordigers van die Cheetahs, Blou Bulle, Sharks en Lions reeds aangedui dat hulle die begrafnis gaan bywoon.

Van Hendricks se familielede het die afgelope Saterdag (17 Mei) die rugbywedstryd tussen Roses United RFC en Villagers Newton RFC bygewoon. Foto: Verskaf

Hendricks is Woensdagaand (14 Mei) op 37-jarige-ouderdom aan ‘n hartaanval oorlede.

LEES: Bolandse rugbylegende en oud-Springbok sterf weens hartaanval

Hendricks, ‘n boorling van die Paarl wie sy hoërskool loopbaan by die Bergrivier Sekondêre Skool in Wellington voltooi het, het in 2008 sy buiging tot professionele rugby gemaak toe hy ‘n kontrak met die Boland Kavaliers geteken het.

In 2012 sluit hy aan by die Vrystaatse Cheetahs en dis juis hier waar sy talent raakgesien en hy in 2014 in die Springbok-span opgeneem is.

Hy het die Springbokke in 2014 en 2015 in altesaam 12 toetse as vleuel verteenwoordig.

Hendricks het ook vir die Blitzbokke, die Suid-Afrikaanse sewespan, asook vanaf 2019 tot Oktober 2024 vir die Bulle, uitgedraf.

Paarl Post het voorheen berig dat Hendricks in 2015 met ‘n harttoestand gediagnoseer is.

Hy in 2019 na die rugbyveld teruggekeer na drie jaar van rehabilitasie en mediese konsultasies.

Hendricks het in Oktober verlede jaar sy kontrak met die Bulle beëindig om terug te keer na die Boland Kavaliers.

Die idee was dat hy sy rugbyloopbaan daar sou afsluit.

You need to be Logged In to leave a comment.